‘Onwettige huiswinkels’
Deur Ilze-Mari Gründling
INWONERS van Rose Valley in Oudtshoorn is ontevrede oor bestaande en nuwe onwettige huiswinkels in hul woonbuurt – dit terwyl die Oudtshoorn Munisipaliteit ’n moratorium op huiswinkels geplaas het.
Volgens Adriaan Wildskut, een van die inwoners, word daar gereeld onwettige water- en elektrisiteitsverbindings gekoppel omdat die eienaars binne die huiswinkels slaap.
“Nie een van hulle het planne ingedien nie,” sê Wildskut.
“Ek moes my winkel toemaak toe die moratorium in effek gekom het.
“Waarom kan hierdie eienaars, waarvan baie buitelanders is, hul winkels opslaan en daarmee wegkom?”
Volgens Wildskut is daar tans ses huiwinkels in sy omgewing.
“Ons hoor van mondelinge waarskuwings en boetes, maar ons weet nie of dit waar is nie.
“Ons as inwoners het al petisielyste by die munisipaliteit ingehandig, maar die buitelanders slaan nog steeds winkels op. Hulle behandel nie die mense reg nie, en sommiges verkoop dwelms,” beweer Wildskut.
Volgens Wildskut is die “buitelanders” hoofsaaklik van Somalië en Bangladesj afkomstig.
Wildskut sê ontevrede inwoners het verlede Vrydagaand omstreeks 20:29 besluit om self dié huiswinkels af te breek, maar het die besighede voortgegaan met hul besigheid.
Volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, is kennisgewings reeds beteken op eienaars van eiendomme waar huiswinkels onwettig opgerig is.
“Finale kennisgewings sal ook beteken word, waarna – indien nie gehoor gegee word aan die kennisgewings nie – verdere regstappe ingestel sal word.”