Toy Ungerer weer op pad na Meesters-wêreldkampioenskap

Deur Liesel le Roux
OUDTSHOORN se meestersatletiek-wêreldrekordhouer, Toy Ungerer (72), gaan in September vanjaar aan haar vierde Wêreld-meestersatletiekkampioenskap deelneem wanneer sy die pad vat Spanje toe.

Ungerer sê sy gaan vanjaar konsentreer op die 400 m-wedren vir vroue 70 plus. Dit is die item waarin sy by die Wêreld-meestersatletiekkampioenskap in Australië in 2016 die wêreldrekord geslaan het.

Sy gaan egter ook – soos by die vorige wêreldkampioenskap – die 100 m- en 200 m-wedlope deelneem.

Sy het die week aan Die Hoorn gesê dat die uitdaging om hard te werk en gereeld te oefen al hoe groter word soos ’n mens ouer word, maar dat ’n mens terselfdertyd ook die vrugte daarvan pluk om sterk en fiks te wees as jy ouer word.

“Baie mense dink die kompetisie in Meestersatletiek is makliker as in professionele atletiek, maar dit is nie. Dit raak al moeiliker hoe ouer jy word.

“Ek sien uit na vanjaar se wêreldkampioenskap. Omdat ek al tevore deelgeneem het, voel ek rustig daaroor want ek weet wat op my wag.”