Luciano wil ’n verskil maak

Luciano Adams, toppresteeder van die Hoërskool De Rust.

Luciano Adams, toppresteeder van die Hoërskool De Rust.

HY het hard gewerk in matriek omdat hy gemotiveerd was om uit te styg bokant sy omstan­dighede, vertel Luciano Adams, skitterpresteerder van die Hoërskool De Rust en die skool se hoofseun in 2016.

Luciano het matriek met ’n gemiddelde persentasie van 82% geslaag en onderskeidings in vyf vakke behaal, naamlik in Engels, wiskunde, reke­ningkunde, besigheidstudies en lewensoriëntering.

Luciano vertel hy het soos baie kinders in ’n enkelouergesin grootgeword, die oudste van drie seuns. Sy ma, Berenice Adams, het nie ’n permanente werk nie. “Dit is vir belangrik om vir my familie, my twee jonger broers, Jaydon en Lorenzo, ’n voorbeeld te stel,” sê hy.

Nog ’n inspirasie was die Universiteit Stellenbosch se Hope@Maties-program waarby hy in graad 11 betrokke geraak het. Dit is ’n voorbereidingsprogram vir universiteit. “Dit het my gemotiveer om harder te werk en om beter as die ander leerders wat daarby betrokke was, te vaar.”

Luciano gaan B Rek aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Hy wil eendag die kor­po­ratiewe wêreld betree en by ’n groot maatskappy werk, uiteindelik as uitvoerende hoof.
Luciano was sedert sy graad 9-jaar elke jaar die topleerder in sy graad. Hy het ook sedert graad 9 op die VRL gedien.

Maar hy het nie net geleer nie. Hy is ’n geesdriftige vlugbalspeler wat in 2016 die Wes-Kaap in vlugbal verteenwoordig het.

“Ek hou ook van teken. Ek is baie betrokke by my kerk se jeug. Ek het ook sedert 2014 die Sonstraal Speelgroep se boeke opgestel vir oudite­ring.”

Wanneer hy gevra word hoe hy voel oor die toekoms van Suid-Afrika gee hy ’n laggie. “Dit gaan tans maar rof daarbuite,” sê hy, maar voeg dan ernstig by: “Ek is gereed om ’n verskil te gaan maak om van Suid-Afrika ’n beter plek te maak.”

Hy vertel dat hy graag ’n positiewe verskil maak en verlede jaar besluit het om ’n seun in sy klas by te staan en te help om matriek te slaag. “Ons skool streef na ’n 100%-slaagsyfer en ek het die seun by ons in die huis ingeneem en alles in my vermoë gedoen om hom te help.”

Die glimlag wat dan oor Luciano se gesig sprei, sê alles: sy klasmaat hét matriek geslaag.

Hou hierdie inspirerende jong man dop!