Nathania Truter is Gimmies se ster-matriek

Die topmatrieks van Langenhoven Gimnasium  wat A-gemiddeldes behaal het net nadat hulle verlede Donderdag na die verhoog geroep is met die bekendmaking van die uitslae. Van links is Nathania Truter, Marli Marais, Viviers Strauss, Melissa Kock, Micke Oosthuizen, Ockert Fourie, Lindi Joubert, Sulindi du Plessis, Ryno Pienaar en Heinz Guder. Afwesig: Marilene Vermaak.

Die topmatrieks van Langenhoven Gimnasium wat A-gemiddeldes behaal het net nadat hulle verlede Donderdag na die verhoog geroep is met die bekendmaking van die uitslae. Van links is Nathania Truter, Marli Marais, Viviers Strauss, Melissa Kock, Micke Oosthuizen, Ockert Fourie, Lindi Joubert, Sulindi du Plessis, Ryno Pienaar en Heinz Guder. Afwesig: Marilene Vermaak.

DEURLOPENDE harde werk en doelwitstelling. Dit was twee van die dinge wat haar gehelp het om een van die Klein Karoo se twee toppresteerders in die 2016-matriekeksamen te wees, vertel Nathania Truter.

Nathania, wat aan Langenhoven Gimnasium gematrikuleer het, was haar skool se Dux-leerder in 2016. Sy het ’n gemiddelde persentasie van 91,4% en sewe vakonderskeidings in die eindeksamen behaal, naamlik in Afrikaans, Engels, wiskunde, le­wens­­oriëntering, lewenswetenskap­pe, rekeningkunde en fisiese we­tenskappe.

“My huiswerk is op ’n daaglikse basis gedoen en ek het seker gemaak ek verstaan die werk ten volle na elke klasperiode. My ouers het my ook baie gemotiveer,” vertel sy verder oor haar goeie punte.

Nathania is die dogter van Weeber en Tina Truter van Herold – geleë tussen Oudtshoorn en George – waar haar pa met angorabokke op ’n familieplaas boer. Sy vertel haar ma is ’n gekwalifiseerde verpleegster, maar is tans ’n tuisteskepper.

Nathania is in haar matriekjaar met die Gimmies se skoolhooftrofee bekroon, ’n toekenning wat erkenning gee aan groei en ontwikkeling by ’n leerder.

Sy was ook lid van die VRL, die onder-hoofmeisie van Aristo-koshuis en lid van haar skool se eerste hokkiespan.

Ten spyte van haar matriek­prestasie wag Natania nog op keuring om medies aan die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer. Indien dit nie realiseer nie, gaan sy BSc Menslike Lewenswetenskappe stu­deer.

“Ek dink oor my toekoms so rea­listies as moontlik. Ek wil suksesvol wees, maar dit maak nie saak waar ek eendag beland nie – solank ek net gelukkig is met wat ek doen.”

Oor die toekoms van Suid-Afrika voel dié oud-Gimmie baie positief.

“Ek is baie positief. Ek weet dat wanneer ons jeug besef met hoeveel potensiaal ons sit, kan dinge drasties verander. Ek is regtig baie positief!”

Sy sê sy glo in elk geval dat dit nooit te laat is om met iets positief te begin nie.

En vrye tyd? “Ek voel gewoonlik skuldig as ek vrye tyd het,” sê sy met ’n laggie, “maar ek hou van swem. Ek is ook mal oor diere, en sal graag met my honde gaan stap of net met hulle speel.”