Die opwinding is tasbaar terwyl die voorbereidings vir die eerste KKS-Gimmies-sporttoernooi ten volle op dreef is. Hierdie sportgeleentheid, wat van vanjaar af ’n jaarlikse instelling sal wees, vind van 18 tot 21 April by Langenhoven Gimnasium plaas.
Skole van regoor Suid-Afrika neem deel aan die toernooi, wat ’n verskeidenheid sportsoorte soos rugby, netbal en hokkie insluit. Die toernooi bied jong sportmanne en -vroue die geleentheid om hul vaardighede te slyp, spanwerk te bevorder en ware sportmansgees te toon.
Volgens die waarnemende skoolhoof, Alewyn Vorster, beloof die KKS- Gimmies-sporttoernooi nie net topgehalte sport aksie nie, maar ook ’n wonderlike geleentheid vir gesinne en sportliefhebbers om saam te kom en die gemeenskapsgees te geniet.
“Ons sien uit daarna om skole van regoor die land te verwelkom en ’n platform te bied vir jong talent om uit te blink,” sê hy. Hierdie geleentheid sou nie moontlik wees sonder die ondersteuning van ons borge nie. ’n Spesiale dank aan Klein Karoo Saad, Klein Karoo Saadproduksie en Agrofors vir hul waardevolle bydrae tot die sukses van hierdie toernooi; het Vorster gesê.
Daar is reeds 27 spanne wat aan die verskeie sportkodes gaan deelneem en Gimmies sien uit om sowat 480 leerders gedurende die toernooi te verwelkom en te huisves.
Skole wat nog wil deel wees van die fantastiese geleentheid, is welkom om Langenhoven Gimnasium se sportorganiseerder te kontak vir verdere inligting. Besoekers kan uitsien na ‘n naweek vol opwindende wedstryde, kosstalletjies en vermaak vir die hele gesin.
Die toernooi is oop vir die publiek en almal word uitgenooi om hul gunstelingspanne te ondersteun. Vir verdere navrae of om meer oor die toernooi te wete te kom, kontak asseblief Dylan Bornmann by sport@lgim.co.za of 044 272 2151/2.
Klein Karoo Saad borg R200 000 vir KKS Gimmies-sporttoernooi
