Duisend atlete eersdaags op Oudtshoorn

Foto's: Die Hoorn argief

Op 21 Maart sal sowat 1 000 atlete Oudtshoorn besoek vir die 48ste SA Tweekamp Kampioenskappe wanneer 14 provinsies mekaar die stryd aansê.

Volgens Dave van der Walt, voorsitter van die reëlingskomitee, is hul tans druk besig met voorbereiding vir die gebeurtenis. Die kampioenskappe word deur Eden Tweekamp aangebied.

Dit is die derde keer dat Oudtshoorn gasheer speel vir hierdie groot byeenkoms. Die byeenkoms van 2020 moes enkele dae voor dit sou begin, afgestel word weens die Covid-19 pandemie.
Die amptelike opening vind op Vrydag 21 Maart om 16:00 by die De Jager-atletiekbaan plaas, gevolg deur die Presidentsfunksie by Hoërskool Oudtshoorn.

Saterdagoggend sal atlete vroeg uit die vere moet wees, want die eerste baanitems begin reeds om 07:00 op die tartanbaan.

Die swemitems begin om 10:00 by die NA Smit-swembad. Die Gala-funksie en medalje-parade vind Saterdag-aand om 18:45 by Highgate Volstruisplaas plaas.

Toegang vir toeskouers is vanjaar kontantloos en kan slegs per kaart by die toegangshekke betaal word, waarna ’n armbandjie verskaf word.

Volgens Van der Walt bring die SA Tweekamp-byeenkoms ʼn ekonomiese inspuiting van ongeveer R4,5 miljoen na Oudtshoorn.

“Ons bedank graag almal wat ingekoop het en help met die opknap van fasiliteite sowel as hul volgehoue ondersteuning,” sê van der Walt. (ANGELIQUE ERASMUS)