Jong trompetspeler van hier na Duitsland

Llewayden Jacobs (links), jong trompetspeler van Oudts­hoorn,  voor sy vertrek verlede week na Duitsland. Hy is hier saam met die leier van die Lutherse Jeugbrigade, kapt David Julius.  Foto:  Garnett Wicomb

Llewayden Jacobs (links), jong trompetspeler van Oudts­hoorn, voor sy vertrek verlede week na Duitsland. Hy is hier saam met die leier van die Lutherse Jeugbrigade, kapt David Julius.  Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
’N VOORSLAG-TROMPETBLA­SER van die Oudtshoorn Lutherse Kerk Jeugbrigade, Llewayden Jacobs (18 ), is tans op besoek aan Duitsland waar hy verskeie gemeentes sal besoek en die jaarlikse Kirchentag, ’n baie groot kerkbyeenkoms, sal bywoon. Llewayden bespeel ook die trompet vir die kerk se senior blaas­orkes.

Die besoek is volgens Pat Sambo, sinodale verteenwoordigder van die Oudtshoorn Lutherse Kerk, ook deel van die kerk se internasionale vie­ringe van 500 jaar van Hervorming.

“Llewayden sal die Oudtshoorn Parogie, die Moria Kring, die Kaap- Oranje Bisdom en die Lutherse Kerk in Suid-Afrika verteenwoordig.”

Llewayden is een van vier jong Suid-Afrikaanse musikante wat die eer te beurt geval het, en sal onder meer ook Berlyn, Greifswald, Löcknitz Koserow en die Baltiese See besoek. Die Kirchentag sal in Greifswald plaasvind.

Volgens Sambo is die tema van vanjaar se byeenkoms Now is the time of grace – in which society do we want to live.

Lluwayden sal by die Kirchentag aan ’n mu­siek-werkswinkel deelneem en ook getuig oor wat die tema beteken vir ’n jeugdige Suid-Afrikaner.

Hy sal saam met jong­mense van Tanza­nië, Pole, Swede en Noord-Amerika optree en ’n musiekopvoering, Martin Luther in Word and Music, bywoon voor­dat hy na Suid-Afrika terugkeer.

Volgens kapt David Julius, leier van die Oudtshoorn Lutherse Kerk Jeugbrigade, is hy baie trots op die jong trompetblaser wat hom aanvanklik self geleer het voordat hy later onderrig van Klaus Claas­sen ontvang het.

“Llewayden is ’n toe­gewyde lid van die bri­gade en ’n voorbeeld vir almal,” sê Julius.
Hy is ’n Graad 12-leerder aan die Hoër­skool Môrester en het voor sy vertrek gesê hy kan nie glo wat hom te beurt geval het nie.

Hy was in Graad 2 toe hy by die brigade aan­gesluit het en het eers die tromme bespeel voordat hy na die trom­pet oorgeslaan het. Hy bespeel ook die tromboon (skuif­trom­pet) en tuba.