Hoogtepunt van ’n jaar se harde werk op sportveld

Gimmies se sportkapteins vir Saterdag se interskole-kragmeting teen die spanne van die Hoërskool Punt is van links Niël Els (hokkie), Jaendré Stander (rugby), Inge  Johnston ­(netbal) en Helena van Heerden (hokkie). Regs is die Gimmies se  sportorganiseerder, Theo Ferreira.  Foto: Higgo Jacobs

Gimmies se sportkapteins vir Saterdag se interskole-kragmeting teen die spanne van die Hoërskool Punt is van links Niël Els (hokkie), Jaendré Stander (rugby), Inge Johnston ­(netbal) en Helena van Heerden (hokkie). Regs is die Gimmies se sportorganiseerder, Theo Ferreira. Foto: Higgo Jacobs

Deur Higgo Jacobs
“DIE Interskole-byeenkoms is die afsluiting en hoogtepunt van ’n jaar se harde werk op die sportveld. Dis een van die geleenthede wat enige leerder altyd sal onthou. Vir die matrikulante is interskole natuurlik nog meer spesiaal.”

So gesels Stephanus Potgieter, skoolhoof van Langenhoven Gimnasium oor Saterdag se interskole-kragmeting teen die Hoërskool Punt van Mosselbaai wat vanjaar op die Gimmies se sport-velde op Oudtshoorn beslis word.

Volgens Potgieter bly deelname en betrokkenheid ’n voorreg en geleent­heid vir elke leerder.
“Die smee van vriendskappe onderling en ook tussen buurskole bly lewenslank.”
Boonop het die Gimmies onlangs nog ’n pawiljoen by Leeupark opgerig en bied Leeupark nou onderdaksitplek vir 1200 toeskouers!

Potgieter het die gemeenskap van Oudtshoorn genooi om te kom deel in al die opwinding van Saterdag.
“Neem deel, geniet dit en leer lewenslesse uit hierdie ervaring,” is die boodskap van Potgieter aan sy skool se leerders.

• Die tuisvoordeel is altyd ’n faktor om mee rekening te hou en die ses dirigente van die Gimmies het Die Hoorn Maandag verseker dat hulle die atmosfeer en die adrenalien gaan opjaag om dit ’n onvergeetlike ervaring vir al die deelnemers en toeskouers te maak.

• Vir oud-leerders is die interskole-kragmeting ook altyd baie spesiaal en vanjaar is nie ’n uitsondering nie. Vier reünie-groepe gaan die naweek die interskole-opwinding saam met hul ou skool se leerders meemaak.

• Saterdag se program skop om 08:30 af met die meisieshokkie op die A- en B-veld. Die optog en seremonie begin om 13:30 waarna die skole se eerste rugbyspanne mekaar om 14:00 pak.