Sers Alan Adams (middel) met sy trofee. By hom is kapt Morné Heunis (links) en Johan Bothma. Foto verskaf
DIE sektorbevelvoerder: landelike veiligheid van Uniondale, sers Alan Adams, is tydens die Jaarkongres van Agri Wes-Kaap aangewys as die Beste Landelike Veiligheidskoördineerder in die provinsie en so vereer vir sy bydrae tot landelike veiligheid.
Kapt Morné Heunis, SAPD-sektorbevelvoerder, sê Adams het die afgelope jaar tydens 252 dwelmoperasies verskeie persone in hegtenis geneem. “Dit wys duidelik dat hy deur die jaar konstant besig was met polisiëringsaksies in die landelike gebiede.
“Hy dien die gemeenskap ywerig deur misdaadbewusmakingsprojekte om ’n beter en veiliger landelike omgewing te verseker, met die klem op ouer persone en misdade teen vroue en kinders.
“Verskeie inisiatiewe is van stapel gestuur om voorvalle van huishoudelike geweld te voorkom en mense aan te moedig om drank verantwoordelik te gebruik. Hy doen ekstra moeite om kinders te bemagtig deur bewusmakingsaksies by plaasskole waar pamflette uitgedeel word om skool- en waterveiligheid, dwelm- en drankmisbruik en seksuele misdrywe aan te spreek.”