Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n man van Ladismith wat van moord, verkragting en verbreking van ’n beskermingsbevel aangekla word, moes Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof weer ’n keer uitgestel word nadat ’n derde regsverteenwoordiger hom aan die saak onttrek het.
Streeklanddros LA Wilkens het die saak teen die 38-jarige Willem Botha op versoek van die staatsaanklaer, Hyron Goulding, voorlopig tot Vrydag uitgestel nadat Botha nie sy erkennings wou bevestig nie.
Sy regshulpprokureur, Eugene Roos, het hom hierna aan die saak onttrek.
In ’n pleitverduideliking wat Roos aan die hof voorgelees het, erken Botha dat hy die 37-jarige Sarah January gewurg en verkrag het.
Hy het haar met ’n groot klip teen die kop gegooi sodat sy hom nie by die polisie kon gaan verkla nie.
In sy pleitverduideliking pleit hy onskuldig op die aanklag van moord, maar skuldig op ’n alternatiewe klagte van strafbare manslag en skuldig aan verkragting en die verbreking van ’n interdik wat Ella Prins teen hom verkry het, deur haar aan te rand en te wurg.
Goulding het dit aan Botha gestel dat hy lewenslange gevangenisstraf vir verkragting sowel as moord in die gesig staar, en sy misnoë oor die vierde uitstel van die saak uitgespreek.
Hy het gesê Botha verander elke keer van regsverteenwoordiger en al die getuies moet verniet vanaf Ladismith na Oudtshoorn reis.
Die saak is uitgestel om Botha weer ’n geleentheid te gee om ’n nuwe regshulpprokureur te kry.