‘Godsdienssaak’ teen skole skop eersdaags in Johannesburg af

hof-images (3)

DIE Hooggeregshofsaak waarin gevra word dat die Hoërskool Oudtshoorn en Langenhoven Gimnasium verbied word om na hulleself as Christelike skole te verwys of om voort te gaan met sekere Christelike gebruike, skop op 15 Mei in Johannesburg af.

Die twee Oudtshoorn-hoërskole en vier ander skole in Gauteng het einde Augustus 2014 kennis gekry dat die Organisasie vir godsdienste-onderrig en demokrasie (ook bekend onder die akroniem OGOD) beoog om die Hoë Hof te vra vir ’n hofbevel wat die skole sal verhinder om hulleself bekend te stel as ’n Christelike skool of dat hulle ’n Christelik gebaseerde opvoeding aanbied.

Die vier ander skole betrokke is die Laerskool Randhart in Alberton, Laerskool Baanbreker in Boksburg, Laerskool Garsfontein in Pretoria en Hoërskool Linden in Johannesburg.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) staan die aansoek namens die skole teen.

Ingevolge hofdokumente wat op die skole beteken is, is dit ’n verbreking van die nasionale beleid oor godsdiens en onderwys asook die Grondwet om ’n spesifieke godsdiens by ’n openbare skool te bevorder of leerders te vra watter godsdiens hul onderskryf.

Die saak word algemeen beskou as ’n waterskei­dingsaak oor godsdiensbeoefening in skole in Suid-Afrika.

In hofstukke dui die skole onder meer aan dat die meerderheid van hul leerders aan die Christelike geloof behoort en dat deelname aan godsdienstige aktiwiteite by die skole vrywillig is. Leerders wat nie daaraan wil deelneem nie word op ’n ander wyse geakkomodeer. Berig deur Liesel le Roux