
Glenton Swarts (26). Foto: Facebook
’N JONG man van Schoemanshoek buite Oudtshoorn het gisteroggend gesterf toe die motor wat hy bestuur het, die Oudtshoorn-De Rustpad naby Dysseldorp verlaat het.
Glenton Swarts (26) is op die toneel oorlede.
Volgens kapt Louis Visser, het ’n wit Toyota Tazz gisteroggend omstreeks 04:45 sowat een kilometer vanaf die Dysselsdorp-afdraai die pad verlaat en teen ’n boom langs die pad gebots.
Die motor was uit die rigting van De Rust na Oudtshoorn onderweg toe die ongeluk plaasgevind het.
Visser sê dit is nie in hierdie stadium duidelik wat aanleiding gegee het tot dié ongeluk nie.
Daar word bespiegel dat Swarts dalk aan die slaap geraak het.
Sy liggaam moes uit die voertuig gesny word.
’n Passasier in die motor, Hinel Pieterse, is nie ernstig beseer nie en per ambulans na die Oudtshoorn Hospitaal geneem.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement van Gesondheid in Eden, het Pieterse slegs ’n sagteweefselbesering in die ongeluk opgedoen, en is hy reeds gisteroggend uit die hospitaal ontslaan.
Pieterse is ook van Schoemanshoek.
Visser het gesê die Oudtshoorn Polisie ondersoek tans ’n saak van strafbare manslag.