Godsdiensbeoefening mag voortgaan, sê regter

Geen godsdiens mag uitgesluit word

Deur Liesel le Roux
GODSDIENSBEOEFENING by Suid-Afrikaanse skole mag voortgaan, maar geen skool mag enige godsdiens eksklusief voorstaan en ander uitsluit nie.

Bywoning van godsdienstige geleenthede by skole of deelname daaraan moet voorts op ’n vrywillige basis geskied.

Dit was deel van die uitspraak gisteroggend in die Johannesburgse Hooggeregshof waar regter Willem van der Linde uitspraak gegee het in die sogenaamde skolegods­dienssaak waarby twee hoër­skole van Oudtshoorn betrokke was.

Albertus Kennedy, voorsitter van die beheerliggaam van die Hoërskool Oudtshoorn, en Christo van der Bergh, voorsitter van die beheerliggaam van Langenhoven Gimnasium, het gister gesê hulle sal eers die uitspraak moet bestudeer voordat hulle daarop kan kommentaar lewer en sal kan aandui wat die implikasies van die uitspraak is.

Die twee skole was onder ses Suid-Afrikaanse skole waarvan die godsdiensbeleid tussen 15 en 17 Mei in die Johannesburgse Hooggeregshof in die kollig gekom het.

Die Organisasie vir godsdienste-onderrig en demokrasie (Ogod) het die hof gevra dat die skole verbied word om na hulself as Christelike skole te verwys of voort te gaan met sekere Christelike gebruike.

Die skole het die aansoek teengestaan.

Die vier ander skole betrokke was die Laerskool Randhart in Alberton, Laerskool Baanbreker in Boksburg, Laerskool Garsfontein in Pretoria en Hoërskool Linden in Johannesburg.