Gimmies skitter op krieketveld

Die o.15 A-span van Langenhoven Gimnasium wat teen Hoërskool Punt met 74 lopies gewen het. Foto: Verskaf

Die krieketspanne van Langenhoven Gimnasium het skitterend gevaar met hul onderskeie wedstryde die afgelope naweek.

Die o.15 A-span van Gim het Hoërskool Punt met 74 lopies geklop. Gimmies het eerste gekolf en 154 lopies aangeteken. Punt is daarna almal vir 80 lopies uitgeboul. Cobus Esterhuyse met 73 lopies is aangewys as die beste kolwer.

Die beste bouler was Acelino Beukes met 2 paaltjies in 3 boulbeurte en met 6 lopies afgestaan.

Die o.19 B-span van Gim het Curro Mosselbaai se o.19 A-span met 69 lopies gewen. Gim het 154 lopies aangeteken waarna Curro net 85 lopies kon aanteken voordat almal uit was.

AJ van Tonder is aangewys as beste kolwer met 28 lopies en JC Kooper (3 paaltjies in 2 beurte, met 2 lopies afgestaan) en Noah Merckel (3 paaltjies in 6 beurte, met 40 lopies afgestaan) is as beste boulers aangewys.

Die o.19 A-span het ook hul wedstryd teen York met 3 paaltjies gewen. Gimmies het
York uitgeboul op 121 lopies waarna Gimmies 125 vir die verlies van 7 paaltjies aangeteken het. Christiaan Stover (4 paaltjies in 3 beurte met 2 lopies afgestaan) en Theo Qusheka (2 paaltjies in 10 beurte met 28 lopies afgestaan) is as beste boulers aangewys, terwyl Farrel Dido, met 51 lopies, nie uit nie, as beste kolwer aangewys is.