Gimmies se top-matrieks gesels

Charlissa Schultz (89%), Tiana van Rensburg (88,9%) en Yahnica Maritz (84,4%). Foto’s verskaf

LANGENHOVEN GIMNASIUM op Oudtshoorn se matriekklas van 2020 spog met ’n 100%-slaagsyfer.

Dié skool is een van net vier uit die 47 skole in die Eden Sentraal Karoo-distrik, wat ’n 100%-slaagsyfer behaal het. Uit hul 117 matrieks het 77% toela­ting tot graadstudies, 18% tot diplo­ma- en 5% tot sertifikaatstudies gekry.

Nege van die skool se leerders het A-gemiddeldes gekry en hier gesels Die Hoorn met die skool se drie topleer­ders oor wat hul harte laat klop en wat hul toekomsplanne is.

Charlissa Schultz (19), met haar 89%-gemiddeld, is die topleerder vir 2020. Lesers ken haar naam wat gereeld op sportbladsye pronk as gevolg van haar fietsryvernuf. Sy het reeds in 2019 haar Protea-kleure vir padfietsry en in 2020 vir baanfietsry verwerf.

In 2020 het sy haar merkwaardige prestasies op sportgebied voortgesit in haar akademie, met sewe A-simbole vir lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, lewensoriëntering, Afrikaans Huistaal, Engels eerste addisionele taal, rekenaartoepassingstegnologie en wiskunde.

Charlissa gaan vanjaar die BSc in fisioterapie aan die Universiteit van Stellenbosch aanpak.

“Glo dit of nie, maar ek het twee weke voordat die aansoeke gesluit het, besluit wat ek wil doen, want ek was so onseker. Ek het toe op hierdie rigting besluit omdat ek so baie van sport en veral fietsry hou, en die rigting my sal toelaat om nog steeds by sport betrokke te wees,” sê sy.

Op skool was sy bedrywig. Sy was in 2020 lid van die matriekraad, en ook die kaptein van die skool se fietsryspan. Sy het ook die beste presteer in wiskunde, lewenswetenskappe, fisiese wetenskap­pe en rekenaartoepassingstegnologie.

Buiten skool sê sy dat sy enige kans wat sy kry, gebruik om te rus en te ontspan en tyd saam met haar familie – haar pa Werner en ma Sonja, en vriende deur te bring. “As ek nie agter die boeke sit nie, is ek op die fiets besig om te oefen vir die volgende kompetisie.”

Al werk haar pa meestal in Irak, sê sy hy ondersteun hulle baie. “Hy is die broodwinner van die huis en maak se­ker dat ons eendag kan gaan werk en doen wat ons nog altyd wou. Hy maak die deure vir ons oop en gee vir ons die beste moontlike lewe wat hy kan. Ek het hom onvoorwaardelik lief.”

Oor haar ma skerts sy: “Wat is sy nie alles nie? ’n Dokter, sielkundige, oppasser, sjef, en die lys gaan nog aan, maar die belangrikste van alles is sy ’n ma. Sy maak seker dat alles in die huis reg loop, sy ondersteun ons in alles wat ons doen, ry ons op en af na ekstra klasse. Sy maak seker die huis bly staan en ek kan nie genoeg dankie se vir alles wat sy doen nie. Ek het haar verskriklik baie lief.”

Charlissa sê sy en die tweede toppresteerder van die skool, Tiana van Rensburg (18) – wat slegs 0,1% met Charlissa verskil met ’n gemiddeld van 88,9% gemiddeld, spook al sedert graad 8 teen mekaar vir eerste en tweede plek.

Tiana, ’n meisie van min woorde, het ook sewe A-simbole losgeslaan in besigheidstudies, rekeningkunde, rekenaartoepassingstegnologie, Afrikaans Huistaal, Engels eerste addisionele taal, lewensoriëntering en wiskunde. Sy het die beste presteer in Afrikaans, Engels en besigheidstudies.

Sy was ’n semi-finalis in die ATKV se debatskompetisie en is as die Dux-leerder tydens die skool se prysuitde­ling aangewys.

Haar plan vir 2021 is om aktuariële wetenskap te studeer, wat sy as ’n uitdaging beskou.

“Buiten skool kyk ek series en slaap,” skerts sy.

Haar pa Jacques en ma Irene woon op Oudtshoorn.
Derde op die Gimmies se lys, met ’n 84,4%-gemiddeld, is Yahnica Maritz (19).

Yahnica het A-simbole in Afrikaans Huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, lewens-wetenskappe en rekeningkunde behaal. In laasgenoemde het sy die beste presteer uit die klas van 2020. Sy het in graad 11 en 12 prestige-kleure by die skool verwerf.

Maar wat nou?

Yahnica sê sy gaan die vakrigting waarin sy erkenning gekry het vir die beste prestasie in die eindeksamen volg.

“Ek is besig met ’n klerkskap by ’n rekenmeestersfirma en gaan B Rek deur Unisa studeer.

“Dit is ’n groot geleentheid wat oor my pad gekom het, en ek het besluit om dit aan te gryp om so sukses te behaal,” sê sy doelgerig.

In haar vrye tyd geniet sy die natuur, om perd te ry en staproetes aan te pak.

Haar pa, Corné, is ’n boer, en haar ma, Judi, ’n tuisteskepper.
Yahnica, ’n uitgesproke meisie, sê een ding wat haar aan die einde van haar matriekloopbaan teleurgestel het, was die punte-aanpassing van die departement van onderwys, omdat toppresteerders nie die punte behaal het wat hulle gewoonlik behaal het nie.

• Lees meer oor 2020 se matriekuitslae in volgende week se uitgawe van Die Hoorn, asook op ons Facebook-blad en webtuiste (diehoorn.com). (Deur Stefan Skapie Goosen)