Gimmies se Refiloe wen skrywersprys

Refiloe Moshata (16), die wenner van die nie-moedertaalafdeling (skole) in die jaarlikse skryfkompetisie van die Bloemfonteinse Skry-wers­vereniging. Refiloe is bekroon vir haar opstel. (Foto verskaf.)

Deur Liesel le Roux
’N GRAAD 11-leerder van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, Refiloe Moshata (16), is aangewys as een van die wenners van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaar­­likse skryfkompetisie. Sy is be­kroon vir haar inskrywing in die nie-moedertaalafdeling vir skole.

Refiloe, wat verlede jaar met haar gesin van Potchefstroom na Oudts­hoorn verhuis het, se huistaal is Sesotho.

Sy sê die feit dat sy gewen het, het nou eers begin insink.

“Ek het dit nie verwag nie!”

Haar inskrywing was ’n opstel met die titel, Die pizza-afleweraar.

Dié akademiese presteerder wat vlot drietalig is en spog met ’n gemiddelde persentasie van 83%, sê sy dink die feit dat sy baie lief vir lees is, help haar beslis met haar skryf­werk. Sy is veral lief daarvoor om boeke te lees met sterk vrouekarakters in.

Op skool is haar lieflingsvakke Engels en wiskunde.

Refiloe se wenpryse is onder meer ’n gratis slypskool in Bloemfontein onder leiding van die skrywer Karin Brynard, ’n kontantbedrag asook die plasing van haar opstel in die bundel met al die bekroonde inskrywings, Inkvars 2019.