
Langenhoven Gimnasium, beter bekend as die Gimmies, het Saterdag uitstekende sportmangees en vasberadenheid ten toon gestel tydens hul jaarlikse sportontmoeting teen Hoërskool Montagu.
Die dag is gekenmerk deur strawwe mededinging, opwindende wedstryde en wedersydse respek tussen die twee skole. Beide spelers en ondersteuners het bygedra tot ’n besonderse sportdag waar talent en karakter duidelik na vore gekom het.
Die rugbyspanne het vir heelwat opwinding gesorg. Die o. 14A-span was eenvoudig onstuitbaar en het Montagu met ’n indrukwekkende 59–0 afgeransel. Die o. 14B-span het in ’n naelbytstryd met ’n 26–26 gelykopuitslag tevrede moes wees.
Die o. 15-, o. 16- en o. 19A-spanne het hard geveg, maar onderskeidelik met 19–14, 31–14 en 38–33 verloor.
Die o. 19C-span het egter ’n sterk vertoning gelewer om met 29–21 te wen, terwyl die o. 19B-span ’n verdienstelike 21–21 gelykopuitslag behaal het.
Op die netbalbane het die Gimmies hul diepte gewys deur agt van die twaalf wedstryde te wen.
Die o. 14A-, o. 14B- en o. 14C-spanne het almal oortuigende oorwinnings behaal en hul teenstanders min kans gegun. Die o. 16B- en o. 16A-spanne het ook met uitste-kende spanwerk en akkurate afronding onderskeidelik met 30–12 en 33–18 gewen.
Die o. 18-afdeling was ewe suksesvol, met die o. 18A-, o. 18B- en o. 18C-spanne wat almal as wenners van die baan gestap het. Hoewel die o. 15A-, o. 15B-, o. 15C- en o. 16C-spanne nederlae gely het, het hulle groot veggees getoon en waardevolle wedstrydervaring opgedoen. Die hokkiewedstryde was ewe mededingend.
By die dogters het die o. 16B- en o.19B-spanne teen sterk Montagu-spanne vasgeval, maar die gemengde o. 16B- en o. 19B-span het uitstekende samewerking getoon om ’n verdienstelike 2–0 oorwinning te behaal. Die seunshokkiespanne het alles gegee, maar moes die knie buig nadat die gemengde o. 14B- en o. 16B-span met 2–1 verloor het en die o. 19B-span met 3–1 vasgeval het. Benewens die uitslae was die dag ’n viering van ware sportmangees.
Hoërskool Montagu verdien erkenning vir die positiewe atmosfeer wat op en langs die veld geheers het, terwyl spelers, afrigters en ondersteuners van beide skole mekaar met respek behandel het.
Gimmies kan met trots terugkyk op ’n suksesvolle sportdag. Die uitstekende vertonings, deursettingsvermoë en spanwerk van die Gimmie-spanne getuig van deeglike voorbereiding en ’n sterk sportkultuur.
Baie geluk aan elke speler, afrigter en ondersteuner wat daartoe bygedra het dat die Gimmie-leeu weer met trots gedra is. Hierdie prestasies skep groot opgewondenheid vir die uitdagings wat nog in die seisoen voorlê. (GRANWILLE GOLIATH)
Be the first to comment on "Gimmies lewer indrukwekkende vertonings teen Hoërskool Montagu"