Gimmie onderwys-egpaar presteer

Celize en Malem van Heerden, het die top- posisies vir hul onderskeie vakke in die 2023 NSS-eksamen behaal. Foto verskaf

Die onderwyser-egpaar van Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn, Malem en Celize van Heerden, het die topposisies vir hul onderskeie vakke in die 2023 NSS-eksamen behaal.

Malem is die Elektriese Tegnologie-onderwyser en Celize gee Gasvryheidstudies.

Hierdie twee vakke se rangorde onder die Top 10 skole is 1ste in die Eden en Sentrale Karoo distrik, 1ste in die Wes-Kaap, asook 1ste Nasionaal.

Elektriese Tegnologie vir die klas van 2023 het ’n 100% slaagsyfer en ’n gemiddeld van 71,6% behaal. Gasvryheidstudies kan spog met ’n 100% slaagsyfer en ’n gemiddeld van 72,5%.

Malem en Celize is hierdie maand al 10 jaar getroud en het drie pragtige kinders van 7, 6 en 4 jaar oud. Malem het in 2018 by Gimmies begin skool gee. Hy was voor dit ’n onderwyser by HTS Middelburg in Mpumalanga gewees. Celize het in 2021 by Gimmies begin en wat haar prestasie nog meer besonders maak, is die feit dat die klas van 2023 die skool se eerste Gr. 12-kandidate vir Gasvryheidstudies was.

Volgens hulle was die stresvlakke maar redelik hoog in die huis tydens die eindeksamen.
“Die praktiese deel van ons albei se vakke word baie streng gemodereer, wat gemaak het dat die voorbereiding op ’n baie hoë vlak moet wees”, het Malem vertel.

Hy sê ook dat élke leerder in die klas prakties moet doen aangesien die leerders so min is. Anders as die leerders in vakke soos Afrikaans waar daar net sekeres getrek word vir prakties aangesien daar soveel meer leerders in die klas is.

Celize vertel ook dat die leerders in Gasvry- heidstudies se praktiese eksamen sewe ure gegee word om soos in ’n restaurant vir 60 gaste ’n vasgestelde spyskaart voor te berei, en elke komponent moet self voorberei word.

Daar word punte gegee vir die kokke, sowel as vir die kelners.

“Enige iets kan verkeerd gaan in daardie sewe ure, veral as daar onbeplande beurtkrag is, of implemente wat breek”, het Celize gesê.

Maar hulle is dit eens dat dit ’n voorreg vir hul albei is om met soveel fantastiese leerders te kan werk en wil graag van die eer ook aan die kinders gee.

Van die ander vakke wat ook presteer het is Meganiese Tegnologie (1ste plek in die Wes-Kaap), Rekeningkunde (13de plek Nasionaal asook hoogste gemiddeld in die distrik), Afrikaans Huistaal (18de plek Nasionaal), Engels Huistaal (2de plek in die distrik) en Ontwerp (1ste plek in die Suid-Kaap met ’n gemiddeld van 79%).