Die afgelope naweek het De Villiers Primêre Skool, hul agste agtereenvolgende Karnaval gehou. Damon Gysman, Adjunkhoof, sowel as hooforganiseerder van die geleentheid beskou hierdie jaar se Karnaval as die grootse en suksesvolste een tot dusvêr.
Karnaval, oftewel die koms van die mallemeule het verlede week reeds groot opgewondenheid onder die leerders van die skool veroorsaak.
“Ons het die eerste Karnaval in 2016 gehou en voor dit het ons vir ses jaar probeer om die maatskappy, Fun4you te oorreed om Oudtshoorn toe te kom”, sê Gysman. Persone van verskillende kulture en ouderdomme was deel van die verrigtinge.
Die Karnaval word beskou as De Villiers se grootste fondsinsameling elke jaar. “Die geleent-heid is nie net een vir die skool se eie leerders en ouers om by te woon nie, maar dit is daar vir die hele gemeenskap. Ons bring die verskillende aktiwiteite na die gemeenskap op ’n bekostigbare wyse. Dit is ook ’n werkskeppingsgeleentheid vir ons ouers wie werkloos is om geld te verdien tydens die Karnaval, wat strek oor twee dae, Vrydag en Saterdag”, vertel Gysman.
Reeds vroeg in die kwartaal is daar ’n sokkie gehou, ten bate van die Karnaval. Om die afskop van die Karnaval te vier, kon leerders Vrydag slenterdag aantrek, tesame met hul happy socks.
Die ouerbetrokkenheid groei ook aansienlik elke jaar, volgens Gysman. So ’n funksie kan slegs suskesvol wees as daar goeie samewerking is tussen opvoeders, sowel as die ouers.
Aangesien meeste van die ouers afhanklik is van staatstoelaes, probeer die skool die finansiële las van ouers verlig. Die laasgenoemde is moontlik gemaak deur die uitreik van donasielyste, waarmee hulle geld kon insamel.
Die fondse is dan beskikbaar gestel aan leerders vanaf Vrydag, waar hulle, hul na hartelus kon geniet op verskeie ritte van die mallemeule.
’n Verskeidenheid stalletjies was hier te kry en persone kon speel- en eetgoed koop en verskeie ander produkte. Stalletjiehouers en kunstenaars word uitgenooi om gebruik te maak van hierdie geleentheid om hul produkte ten toon te stel.
Saterdag het afgeskop met ’n Pretloop en deelnemers het reeds vooraf mekaar met verf bestrooi, wat gesorg het vir baie vermaak. Verskeie geskenkbewyse was ook op die spel in die vorm van ’n trekking.
Pryse is moontlik gemaak deur borge, wie donasies gelewer het.
Vir die toekoms word daar beplan om plaaslike vermaaklikheidsterre ook deel te maak van die program.
As jy nie die naweek, De Villiers Primêr se Karnaval bygewoon het nie, sal jy nie weet wat die res van die Karnavalgangers nou weet nie.
Daar word alreeds weer uitgesien na die volgende een. (Deur Geraldine Amsterdam-America)