‘Geskok’ oor dié agt A’s!

Lara van der Walt.  Foto verskaf

Lara van der Walt. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
SY was geskok toe sy haar matriekuitslae ontvang het en sien dat sy vakonderskeidings in al agt haar vakke behaal het, vertel Lara van der Walt (19), een van die Hoërskool Oudtshoorn se toppresteerders in die 2017-matriekeksamen.

Lara, wat spog met ’n gemiddelde persentasie van 86,7%, het vakonderskeidings behaal in Afrikaans huistaal, Engels huistaal, wiskunde, le­wenswetenskappe, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, musiek en lewensoriëntering.

Sy het die laaste maande van haar matriekjaar baie hard gewerk vir haar agt A-gemiddeldes, vertel Lara, veral omdat sy die eerste deel van die jaar baie tyd afgestaan het aan twee van haar geliefkoosde dinge, die skool­koor en om te dans.

“Ek het na die Hoërskool Oudts­hoorn gegaan om in juffrou Elmien Bester se koor te kan sing; so belang­rik was dit vir my,” vertel sy.

Dié slimkop vertel sy hou daarvan om besig te bly en lees graag omdat sy daarvan hou om meer oor dinge uit te vind.

Sy wil ook nie nou al ’n besluit oor haar toekoms neem nie, omdat sy nog onseker is oor watter rigting om in te slaan. “Daar is baie opsies en ek wil wag om die regte besluit oor my toekoms te maak.”

Lara gaan vanjaar as tutor by Master Science op Oudtshoorn werk en ook dansklasse by die Pro Academy aanbied. Sy beoog ook om ’n aantal sielkunde-kursusse deur Unisa te studeer en so te probeer bepaal of dit dalk die rigting is wat sy moet inslaan.

“Ek is mal oor kinders en sal graag iets wil doen wat met kinders te doen het. Ek het dit in matriek ook baie geniet om wetenskap en wis­kunde aan ander kinders te verduidelik. Miskien sal ek onderwys as loopbaan oorweeg.”

Lara is die dogter van Eddie en Deleze van der Walt van Oudts­hoorn. Eddie is ’n internetbemarker en Deleze ’n hekel-ekspert wat onder meer hekelklasse aanbied.