Eerste spelkompetisie vir Voorbedag-primêr

Voor van links is: AJ-Lee Avontuur, Hirania Everts en Mavirine Julie. Agter is Shabadia Swartbooi en Elzie Stapelberg Foto: Hannes Visser

Tien jaar gelede het die eienaars van Swartberg Country Manor in Matjiesrivier die Klein Karoo Leessentrum tot stand gebring. Die leessentrum word reeds die afgelope tien jaar deur leerders van Voorbedag Primêre skool, wat langs Swartberg Country Manor is, benut.

Om die leesvaardigheid van lesers verder te bevorder, besoek Elzie Stapelberg van die Tina Cowley Leessentrum op Oudtshoorn die skool twee keer per week.

Op Sondag 20 Oktober het die Klein Karoo Leessentrum saam met Stapelberg en Swartberg Country Manor ’n Flinkdink Spellingkompetisie aangebied. Drie leerders elk van Gr 4 tot Gr 7 het aan die kompetisie deelgeneem.

Die skoolhoof, Me. L Van Hanse, het Sondag gesê sy kan nie die impak wat die leessentrum op die skool het genoeg benadruk nie en die spellingkompetisie was ’n groot gebeurtenis. “Ons kinders het nog nie die geleentheid gehad om aan die groot Spelling Bee-kompetisies deel te neem nie, en vandag was vir die deelnemers die heel eerste keer om voor ’n gehoor te kan wys hoe mooi hulle spel.”

Die wenners van die onderskeie grade was: gr 4 – AJ-Lee Avontuur, gr 5 – Hirania Everts, gr 6 – Mavirine Julies en gr 7 – Shabadia Swartbooi. Hirania Everts is ook aangewys as die algehele wenner. Om ’n algehele wenner te bepaal is daar na die uitslae van die kompetisie sowel as leerders se vordering met die Tina Cowley-sessies elke week gekyk. Volgens Me. Van Hanse en Elzie Stapelberg gaan daar volgende jaar beslis weer ’n spellingkompetisie aangebied word. (HANNES VISSER)

Spelkompetisie deelnemers

Spelkompetisie beoordelaars