Eden Fietsry skitter en beïndruk

SA Skolefietsrykampioenskap dalk hierheen

Deur Ben du Preez
DIE fietsryspan van Eden, voorheen die SWD-fietsryspan, het uitstekend gevaar tydens die afgelope jeugfiets­kampioenskap.

Dié fietsry het deel uitgemaak van die Oudtshoorn Sportfees en het van Maandag 3 Julie tot Woensdag 5 Julie by verskillende venues in en om Oudtshoorn plaasgevind.

Eden was met 567 punte die algehele wenner van die die ses distrikte wat deelgeneem het, gevolg deur die Kaapse Metropool met 406 punte en die Kaapse Wynlande met 274 punte.

Dit is die sesde uit tien byeenkomste wat deur Eden gewen is sedert die begin van die kompetisie.
Die spanne wat die beste gevaar het, was Eden se o.15 A-, o.17 A- en o.13 A-spanne in onderskeidelik die eerste, tweede en derde plekke.

Altesaam ses distrikte, Eden, die Vrystaat, Oostelike Provinsie, die Kaapse Wynlande, die Kaapse Metro­pool en die Wes-Kaap het deelgeneem. Altesaam 210 ryers, waarvan 167 geregistreerde fietsryers is, het deelgeneem.

Volgens Corné Bence, voorsitter van die Eden Fietsry Assosiasie, was die byeenkoms ’n reuse-sukses.
Die eerste dag se kompetisie by die Highgate Volstruisplaas het bestaan uit pad- en tydtoetse oor verskillende afstande.

Die tweede dag se kompetisie het by Aurial Kollege in Bridgton plaasgevind.
Dié dag se fietsry het daarin geslaag om die kompetisie na die mense te bring sodat toeskouers die ryers in aksie kon sien.

Op die derde dag was dit berg­fietsry op die Arnold de Jager Ovaalbaan se beurt, waar fietsryers se tegniek op die proef gestel is.

Bence sê ’n voorlegging is aan Fiets­ry Suid-Afrika gedoen om aanstaande jaar Februarie die SA Skolefietsrykampioenskap op Oudts­hoorn aan te bied.

Aanstaande jaar se jeugfietsrybyeenkoms word voorts so gereël dat dit met die Knysna Oesterfees sal saamval.

Bence sê die president van Fietsry SA, William Newman, en die voorsitter van die transformasie- en ont­wikkelingskommissie, Bonga Ngqobane, het die byeenkoms op Oudts­hoorn bygewoon en was baie tevrede met die aanbieding daarvan.

Volgens Bence verdien Lee Arries ’n groot deel van die eer vir die sukses van die toernooi. Arries is se­kretaresse van Eden Fietsry en hulp­­afrigter van die beginners.