De Rust Sekondêr se matrieks spog ook met uitslae

De Rust Sekondêr se topmatrieks in die 2021- matriekeksamen is van links Rosdane Mas­watti, Ashwin Booysen en Ronaldineo Owen. (Foto verskaf)

AL is die uitslae van die 2021-matriekeksamen lankal bekend gestel, spog De Rust Sekondêr steeds met hul uitslae, en is die skool dank­baar vir die uitslae wat die klas van 2021 vermag het.

Die skool se slaagpersentasie vir die eksamen was 77,1% uit ’n groep van 70 matrikulante. Uit hierdie leerders het 31 gekwalifiseer om vir graadkursusse in te skryf, 14 het vir toegang tot diplomakursusse gekwalifiseer, en nege vir hoër-sertifikaatkursusse.

Die skool spog met ’n 100%-slaagsyfer in Engels, lewensoriëntering en toerisme; terwyl hulle ’n hoër as 90%-slaagsyfer behaal het in Afrikaans, geskiedenis en rekeningkunde.

Buiten hierdie slaagsyfers per vak, het die skool se matrieks agt A-vakgemiddeldes behaal, 38 B-vakgemiddeldes en 87 C-vakgemiddeldes.

Die drie topleerders van die klas van 2021 was Ashwin Booysen in die eerste plek, Ronaldineo Owen in die tweede plek, en Rosdane Maswatti in derde.

Volgens Marcos Saayman, graadhoof van die graad 12-klas, is daar baie mense waarvoor dank uitgespreek moet word vir hierdie uitslae.

“Dankie is ’n woord wat ons nooit te veel kan gebruik nie. Hoe sȇ mens dankie? Dankie, Heer, vir genade so groot. Dankie dat daar waar ons strui­­kel, u ons kon optel en dra. Opregte waarde­ring en oneindige dank aan elke opvoeder, ouer, skoolbeheerliggaam, breӫ skoolfamilie, diens­punt en OBOS, vir elkeen se rol, hoe gering ook al.”