Carl skitter met 86%

Carl Jooste, BSS se toppres­teer­der, spog met ses onderskeidings. Foto verskaf

DAAR was die week groot blydskap in die huis van John en Shelise Jooste van Oudtshoorn nadat hul slimkop-seun Carl (17) gehoor het hy is Bridgtion Senior Sekondêr (BSS) se toppres­teerder in die 2020-matriekeksamen.

Carl spog met ’n gemiddeld van 86%, onderskeidings in ses vakke en een B-gemiddeld.

Hy het A’s gekry in Engels, wis­kunde, rekeningkunde, le­wens­wetenskappe, fisiese weteskappe en lewens­- oriëntering.

Sy gunstelingvakke was wiskunde en lewenswetenskappe, vertel Carl.
Dié slimkop gaan vanjaar aktuariële wetenskap aan die Universiteit Kaapstad studeer.

Hy vertel dat hy baie lief is vir lees en ook baie tyd op sy rekenaar deurbring.

Carl, ’n oud-hoofseun van die Laerskool Bergsig het vanaf sy laerskooldae akademies uitgeblink en was altyd onder die top 10 in sy klas. Sedert sy graad 11-jaar was hy die topleerder by BSS.

Carl se ma, Shelise wat by die Wilgewandel Vakansieplaas werk, sê sy wil graag al die onderwysers en skoolhoof van BSS bedank vir die groot invloed en bydrae wat hulle op Carl se akademiese prestasies gehad het.

“Alle eer kom die Hemelse Vader toe.”

Sy pa, John Jooste, werk by die Klein Karoo Groep. (Deur Liesel le Roux)