Robert met agt A’s en 89,86% die toppresteer!

Robert Swart (18) en sy pa, Chris, Maandag by die bekendmaking van die uitslae by die Hoërskool Oudtshoorn. Foto: Liesel le Roux

DIT sit nie in elkeen se broek om in die jaar van ’n wêreldwye pandemie agt matriekvakke te neem en boonop onderskeidings in al agt te behaal nie.
Dit is egter presies wat Robert Swart, die Groter Oudtshoorn se toppresteerder in die 2020-matriekeksamen, vermag het.

Robert, wat in 2020 die onderhoofseun was van sy skool, het ’n vak-gemiddeld van 89,86% in die eindeksamen behaal met onderskeidings in Afrikaans Huistaal, Engels Huistaal, wiskunde, fisiese wetenskappe, ingenieursgrafika en -ontwerp, rekeningkunde, rekenaartoepassingstegnologie en lewensoriëntering.

Sy gunstelingvak was wiskunde, vertel hy. Dit is ook duidelik uit die 97% wat hy in die eindeksamen in dié vak behaal het.

Robert gaan vanjaar in sy pa, Chris, se spore volg wanneer hy siviele ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer. Sy pa is ’n siviele ingenieur in diens van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit en sy ma, Liezel, ’n wiskunde-onderwyser by die Laerskool Wesbank.

“Ek stel belang in kusingenieurswese en sal graag navorsing daarin wil doen,” vertel Robert oor sy toekomsplanne.

Robert is egter nie net ’n akademiese uitblinker wat dwarsdeur sy skoolloopbaan gepresteer het nie. Hy het ook ’n wye reeks belangstellings en sê hy geniet vlieghengel, fietsry, gholf, kitaarspeel en jag. Hy het ook vir sy skool se eerste seunshokkie-span gespeel.

En dan is daar mense vir wie hy graag dankie wil sê: “Ek wil spesiaal dankie sê aan my grootouers vir al hul ondersteuning deur my skoolloopbaan.”