Deur Liesel le Roux
TWEE jong Oudtshoorniete is onder agt hoërskoolleerders van die Tuinroete-distrik wat genooi is om Saterdag aan die Wes-Kaapse Jeugparlement in Kaapstad te gaan deelneem.
Hulle is Wildon Minnies van Fezekile Sekondêr en Samantha Beukes van Bridgton Sekondêr.
Die ander leerders uit die streek is Dané Prins en Ziersca Witbooi van Mosselbaai, Alutha Phike en Lusindiso Langa van Plettenbergbaai, en Justin Yawe en Jalaser Bosman van George.
Die speaker van die Wes-Kaapse parlement, Masizole Mnqasela, sal as voorsitter optree van ’n beoordelingspaneel, wat ’n seun en meisie uit die 40 genooide leerders uit die provinsie sal aanwys om
in September die Wes-Kaap by die Afrika Jeugparlement in Kigale, Rwanda te verteenwoordig.
Die Afrika Parlement word van 10 tot 16 September deur die Statebond se Commonwealth Parliamentary Association (CPA) vir die Afrika-streek aangebied.