Die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue (South African Chamber for Business Woman of SABCW) stig eersdaags ’n nuwe tak op Oudtshoorn.
Die SACBW is 35 jaar gelede op 7 Desember 1988 deur Rika Venter gestig en sy was ook die eerste president van die organisasie.
Venter, ’n bekende in besigheid- en kunskringe, het in 2012 na Oudtshoorn verhuis.
Afgesien van Oudtshoorn, is daar takke in George en Mosselbaai met 15 takke en honderde lede regoor Suid-Afrika.
Die (SACBW) streef daarna om vroue te verenig sodat hul die besigheids-evolusie kan lei – van beginners tot gevestigde besighede.
Hulle bied ook hulp aan elke vrouelid om hul unieke talente te ontgin en bied toegang tot ’n kollektiewe span vroue wat opstaan teen uitdagings in ’n besigheidslandskap wat voortdurend verander.
Vroue het oneindig baie potensiaal en die organisasie wil hê almal moet dit ontsluit terwyl lede mekaar en ook ander langs die pad ophef en ondersteun.
Venter was die eerste vrou wat op die hoofbestuur en dagbestuur van die AHI gedien het asook in die dagbestuur van die Johannesburg Afrikaanse Sakekamer (JAS), en het selfs al oud-president Nelson Mandela ontmoet.
Sy en haar man, Thinus was 69 jaar getroud, voor albei verlede jaar oorlede is. Thinus in Julie 2022 op die ouderdom van 94, en slegs ’n maand later in Augustus 2022 is Rika op 87 oorlede.
Alhoewel haar dood ’n groot skok was, leef haar nalatenskap voort deur die platvorm wat sy vir vroue geskep het om in die besigheidswêreld bemagtig te word.
Ziva Spangenberg, streeksleier vir die Tuinroete en Overberg het die nuwe lede ontvang en meer vertel van die organisasie tydens die vroue netwerkoggend verlede Donderdag 26 Oktober 2023.
“Saam is ons sterker,” het sy aan die dames gesê wat die oggend bygewoon het.
Bianca Olsen, voorsitter van die Oudtshoorn tak het aan Die Hoorn gesê dat sy opgewonde is oor die dinamiese en inspirerende vrouens van Oudtshoorn. “Ek sien uit daarna om ‘n platform te hê waar ons saam, kan groei en groot dinge te bereik,”
Enige dames wat belangstel om by die SABCW aan te sluit kan vir Bianca Olsen kontak by 072 535 2256, of stuur ’n e-pos na oudtshoorn@-sacbw.org.
SACBW maak tak oop
