Die bobaas-bakkers saam met agter van links Johan van Heerden (Camp Roadhouse), Francois Ferreira, Jaco Vorster (Camp Roadhouse), Renate Samouilhan (voor Ferreira), Debbie Bruce (voor) en Steph Nel van Signa (agter Bruce). Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
TWAALF studente het Dinsdag sertifikate ontvang nadat hulle ’n kursus in brood- en fyngebak voltooi het.
Die groep het 13 maande lank gewerk aan dié NQF Vlak 2-kursus, en dit met vlieënde vaandels geslaag.
Die kursus het van Mei 2018 tot Mei 2019 gestrek en is deur die Signa Groep in samewerking met die Francois Ferreira Akademie aangebied. Studente het ook praktiese ondervinding opgedoen by plaaslike bakkerye.
Die kursus wou jongmense bemagtig en vir hulle geleenthede skep deur vir hulle vaardighede aan te leer.
Vyf studente het reeds permanente aanstellings gekry, en twee is besig met ’n verdere kursus.
Die Signa Groep bestuur ’n landwye akademie van 1 900 studente en kry befondsing vir die kursusse vanaf besighede regoor Suid-Afrika.
Signa Akademie Suid-Kaap het ’n kampus op Oudtshoorn waar tans twee kursusse in Besigheidsadministrasie aangebied word.