Deur Liesel le Roux
DIE moontlike sluiting van ’n 50 jaar-ooreenkoms met ’n ontwikkelaar vir die verhuring van die Calitzdorp Spa en die De Hoek Bergoord mag die enigste reddingsboei wees om te voorkom dat hierdie twee sukkelende oorde gesluit word en mense hul werk verloor.
Die Tuinroete Distriksmunisipaliteit sê die afgelope week in ’n mediaverklaring dat hulle al meer as ’n dekade lank groot verliese ly in ’n poging om die deure van die twee oorde oop te hou. As die huidige status quo by die oorde nie aangespreek word nie, mag dit lei tot die sluiting van die oorde en die verlies aan werksgeleenthede.
Van die inwoners van die gebied het die laaste weke hul teenkanting teen die verhuring van die oorde uitgespreeek, party omdat hulle bang is dit sal na opgradering slegs vir welvarende mense toeganklik wees, terwyl daar ook inwoners is wat tydens die openbare deelnameproses aangedui het daar is grondeise hangend op die grond van die Calitzdorp Spa.
In hul verklaring sê die Distriksmunisipaliteit hulle wil die Tuinroete-gebied vestig as as ’n voorkeurbestemming vir nasionale en internasionale beleggings en het daarom verskeie inisiatiewe van stapel gestuur om dit te laat realiseer.
Die twee oorde was onder eiendomme wat geïdentifiseer is as moontlike beleggingsgeleenthede deur langtermynverhuring.
Die vennootskap wat in die vooruitsig gestel word, sal – indien suksesvol – die plaaslike ekonomie stimuleer, meer as 1 000 werksgeleenthede skep en massiewe opgradering van die infrastruktuur vir gemeenskappe tot gevolg hê.
Die hulpbronne wat tans aangewend word om die twee oorde oop te hou, kan dan na ander diensleweringsprojekte gekanaliseer word wat ’n groter sosio-ekonomiese invloed op die streek kan hê.
Luidens die verklaring het die munisipaliteit geen rekord van enige formele dispuut oor die eiendomsreg van die oorde of enige grondeise daar nie.
“Die munisipaliteit het eers van hierdie dispute bewus geword toe die betrokke families beswaar gemaak het tydens die openbare deelnameproses vir die Calitzdorp Spa. Die munisipaliteit soek tans duidelikheid hieroor van die Grondeisekantoor
“ ’n Brief van die Kantoor van die Kommissaris van Streekshofseise, gedateer 28 Mei 2019 oor hierdie aangeleentheid, dui aan dat die eise voor 31 Desember 1998 deur die Prins-familie ingedien is. Die brief dui verder aan dat die saak nog ondersoek word.”
Daar is volgens die distriksmunisipaliteit se verklaring nog geen huurooreenkoms onderteken met Len24 Gmbh of enige ander huurder nie.
• Luidens ’n kennisgewing van die distriksmunisipaliteit waarin inwoners vroeër vanjaar gevra is vir terugvoer op dié planne, sal die verhuring van die oorde werk skep, toerisme stimuleer en deur ’n “belegging in groen tegnologie” watersekuriteit vir die Kannaland Munisipaliteit meebring. Die beoogde ontwikkeling behels verblyfkomplekse, asook onder meer ’n gholfbaan, restaurant, kliniek, verblyf vir personeel, ’n speelterrein vir kinders, ’n virtuele realiteits-arkade, treine vir kinders en ouers om die besienswaardighede van die kompleks te besigtig, ’n gesondheids- en skoonheidskliniek, ’n voëlreservaat en die hervestiging van ekovriendelike plante en diere.