Besighede kry swaar

Jaco Vorster

DIE uitdaging wat daar sedert die begin van die pandemie is vir plaaslike besighede om hul deure oop te hou, moet nie onderskat word nie. Nog baie deure kan sluit,” sê Jaco Vorster, voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer.

Volgens Vorster het ’n paar plaaslike besighede reeds in April tydens ’n opname van die Besigheidskamer aan die begin van die pandemie aangedui dat hulle waarskynlik nie weer hul deure sal kan open nie.

Die Besigheidskamer beoog egter om eersdaags weer ’n opname onder besighede te doen.

Vorster glo dat dit nou die tyd is vir besigheids-eienaars om nie net sinvolle besluite te neem nie, maar ook om innoverend te dink en positief te bly.

Hy verwys na suksesvolle voorbeelde van besighede wat ná die Tweede Wêreldoorlog met nuwe produkte groot groei getoon het, soos Toyota wat ná die oorlog ’n sukkelende maatskappy was en die suksesverhaal van Italië met die Vespa-­motorfiets.

“Die mense van Italië het ná die oorlog aan die gang gebly met die ontstaan van Vespa.

“Die gemeenskap van Oudtshoorn moet koppe bymekaar sit oor hoe ons ook weer onsself aan die gang gaan kry en hoe ons kan mobiliseer.

“Hoe ons as gemeenskap gaan optree met die verligting van die inperking sal ons toekoms bepaal. Ons moet gereed wees vir nuwe geleenthede – geleenthede wat ons dalk gedink het nie moontlik is nie

“Ons moet dink aan hierdie as ’n nuwe seisoen van die lewe.

“Dit vra vir ’n ander vlak van trots, gewilligheid en entoesiasme soos wat ons dorp nog nie ervaar het nie – van elke werkgewer, werknemer en verskaffer.”

Vorster sê werknemers en inwoners het ook ’n groot rol om in die toekoms van die dorp te speel.

“Werknemers moet besef dat daar baie mense in die mark is wat nie tans werk het nie en wat wag vir ’n werkgeleentheid.

“Dis nou die tyd dat werknemers hul sokkies moet optrek en hul beste moet lewer.”

Hy glo ook vas dat elke verantwoordelike inwoner sal besef dat hulle nie nou mag toelaat dat besigheid uit die dorp gaan nie.

“Ek dink ook dit is belangrik dat inwoners besef deur watter moeilike tyd besighede gaan en moeite doen om plaaslike besighede te ondersteun.

“Ons moet almal saamwerk waar moontlik. Kyk uit vir mekaar. En onthou, daar is beslis nog geleenthede.”
Netwerkaand einde September

Die Oudtshoorn Besigheidskamer beplan ’n eerste netwerkaand sedert die pandemie in Maart begin het. Dit sal einde September plaasvind met Covid-19-regulasies wat gevolg sal word. (Deur Liesel le Roux)