Wiele op en af!

Deur Arno Greyling

Deur Arno Greyling

OP Sondag 28 Mei het die Monaco Grand Prix plaasgevind.

Die aanhangers van die sport sal weet dat die baan wat kronkel deur die strate van Monaco, dit uiters moeilik maak om verby te steek.

Daarom is die kwalifiserende ritte wat bepalend is vir jou plek op die wegspringrooster van kardinale belang.

Toe Kimi Raikkonen dus die Ferrari-aanslag lei uit die eerste weg­springposisie het dit die span nie gepas nie. Maar hoe nou gemaak op ’n baan waar verbysteek bykans onmoontlik is?
Uiteindelik het Vettel eerste oor die eindstreep geblits met ’n briesende Raikkonen op sy hakke. Die verskil was die spoed waarmee bande in die kuipe geruil is. Dit het Vettel die oorwinning besorg. So wat gebeur in die kuipe met die ruil van bande?

Die amptelike vinnigste tyd om die vier bande te ruil is opgestel deur die Williams-Mercedes-span wat in 2016 Felipe Massa se bande binne 1,98 sekondes geruil het.

Daar is gemiddeld 21 tegnici by die proses betrokke. Die eerste een word die “lollipop man” genoem. Hy gee instruksies aan die renjaer wat betref waar om stil te hou en wanneer die motor weer in rat gesit kan word om weg te trek. Daar is al ’n paar omgery, maar gelukkig niks ernstig nie.
Dan is daar twee manne wat die domkragte hanteer. Daarmee word die motor voor sowel as agter van die grond gelig.

Twaalf rakkers is betrokke by die fisieke omruilproses, drie per wiel. Die een hanteer die “wheel gun” wat die wiel se moere losmaak, die volgende een haal die ou band af en die derde een plaas die nuwe band op sy plek waarna die eerste man weer die wielmoere vasmaak. Alles binne twee sekondes!

Nog twee kêrels staan aan elke kant van die renmotor en verskaf stabiliteit terwyl die motor in die lug is.
Dan is daar ook nog twee tegnici wat die voorste drukvlerkie moet verstel indien die renjaer die motor se balans wil verander. Daar word nie meer brandstof ingegooi in die kuipe nie, dus is die risiko van brand aansienlik minder, maar daar staan steeds ’n man met ’n brandblusser gereed vir enige gebeurlikhede.
F1-motors het nie aansitters in die kajuit nie – dus is daar ook een tegnikus gereed om die enjin weer aan die gang te kry indien die renjaer die enjin stol – iets wat baie selde gebeur.
Die manne verantwoordelik vir bogenoemde is seepglad en uiters goed gedril.

Die fout wat die algemeenste voorkom, is wanneer die renjaer nie sy motor op presies die regte plek tot stilstand bring nie. Dit beteken dat alles geskuif moet word, al is dit net met 20 tot 30 sentimeter, wat tot 0,60 sekondes se vertraging kan lei.

Dit, in ’n neutedop, is wat in die kuipe gebeur. Moet asseblief net nie dieselfde verwag van ons plaaslike bande-manne nie… Hulle het darem altyd ’n goeie koppie koffie aan te bied terwyl jy wag.
Tot ’n volgende keer… Groetnis.