Prins Albert se ATKV ontvang toekenning

Die Prins Albert Vastrappers, met hul leier, Sarah van Rooi (links), voor 'n optrede in die Jans Rautenbach Schouwburg op die dorp. Inlas: Denise Ohlson, die ATKV Prins Albert se takvoorsitter. Foto’s: Marlene Malan

Die Prins Albert Vastrappers, met hul leier, Sarah van Rooi (links), voor ‘n optrede in die Jans Rautenbach Schouwburg op die dorp. Inlas: Denise Ohlson, die ATKV Prins Albert se takvoorsitter. Foto’s: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
Minder as twee jaar nadat die ATKV Prins Albert-tak gestig is, het dit by die onlangse algemene jaarvergadering van die organi­sasie op Buffels­poort weggestap met ’n toekenning vir ’n tak “met ’n baie hoë graad van funksionaliteit”.

Die voorsitter, Denise Ohlson, het die toekenning namens die bestuur en lede in ontvangs geneem.
Die prestasie is nog meer uitsonderlik omdat die tak minder as twee jaar oud is. Onder Ohlson se aanvoering is verskeie kultuur­geleenthede gehou en projekte aangepak, waarvan die grootste die stigting van die rieldansgroep, Die Prins Albert Vastrappers, is.
Ohlson sê sy wou graag Afrikaans op Prins Albert bevorder.

“Die beste manier om dit gestruktureer te doen, was die stigting van ’n ATKV-tak. Dis ’n feit dat ons land besig is om amptelik te verengels. In ons dorp beleef ons dit ook. Vir my is dit belangrik dat almal wat Afrikaans liefhet en koester daarop gesteld moet wees dat kennisgewings, plakkate, inligting, advertensies en briewe wat amptelik in ons dorp uitgereik word, in albei tale beskikbaar is. Die grootste deel van ons dorp se inwoners is Afrikaans. Hierop let die ATKV. Ons is byvoorbeeld baie dankbaar daarvoor dat ons toerismeburo ons nou in Engels én Afrikaans inlig oor wat op Prins Albert gebeur.”
Oor die Vastrappers het Ohlson gesê dis ’n groep jongmense “wat besig is om diep spore in ons gemeenskap te trap. Nie net Afrikaanssprekers waardeer hul energie en vreugdevolle passies nie – Engelssprekendes en selfs Nederlanders hier op die dorp raak opgewonde oor die gerielery. Die Vastrappers se grootste invloed is hier in die dorp, waar ander kinders hul ywer en deursettingsvermoë sien en onder die indruk kom van die sukses wat spruit uit ure en ure se gefokusde oefen, van dissipline en orde en spangees. In hier­die opsig speel Sara van Rooi, hul leier, ’n onontbeerlike rol.”
Volgens Ohlson het die ATKV Prins Albert ook ’n paar Engelse lede. “Hulle ondersteun ons aktiwiteite toegewyd, en sluit sowaar aan. So het Hugh Forsyth van die dorp onlangs deelgeneem aan ons jaarvergadering, en sy stories oor sy donkies in die mooiste Afrikaans vertel!”

Alle kultuuraande wat die tak reël, “is bloot net lekker”, sê sy. “En dis heerlik om te spog met wat ons dorp se mense alles weet en doen. Ons vertel saam en ons luister saam. So leer ken die dorp se mense mekaar beter en bou ’n hegter gemeenskap.”

Sy sê terwyl sy takvoorsitter is, “sal dit my doelwit wees om die tak lewenskragtig te hou, om die hoë funksionaliteit te handhaaf.

“Die vier pilare waarop ons aktiwiteite gebou word, is taal, die kuns­te, onderwys en gemeenskap. Ons dorpsmense het kennis, talente en kundigheid wat die ATKV graag wil inspan rondom hierdie vakgebiede. Ons kan saamwerk om ons Afrikaanse erfenis en taal te bewaar.”
Volgens Ohlson is die volgende kultuuraand ’n “plate-aand” waartydens tien dorpenaars die vinielplaat van hul keuse gaan kom voorspeel “en die storie agter die musiek kom vertel”.
Dit gaan ook, soos voorheen, plaasvind in die Jans Rautenbach Schouwburg – die eiendom van Laetitia van Dyk – wat nou al die tak se tuis­te vir aktiwiteite geword het.