Wiele draai altyd

Deur Gielie Goedvoel

As daar nou een waarheid is, is dit dat niks ooit onbepaald kan aangaan nie en dat die onwaarskynlike dikwels vinniger gebeur as wat verwag word.

Die land se verkiesing het dit pas bewys. ’n Paar jaar gelede was dit haas ondenkbaar dat die ANC sy wurggreep op die land sal verloor, maar toe gebeur dit. Wel nie sonder teenstand en rukke en stote nie, maar dit is duidelik dat daar ’n verandering gekom het en die golf oor hulle gebreek het. Toe ek op skool was, was die grootmense dit eens dat Suid-Afrika nooit televisie sal kry nie (hopeloos te liberaal en sondig) en dat ’n liter petrol nooit duurder sal wees as ’n liter Coke nie.

’n Mens sal ’n hele lys van dinge kan opnoem wat “nooit” sou kon gebeur het nie en dan het dit tog gebeur. Iemand het op ’n keer gesê al ding wat seker is, is dat niks seker is nie.

Dit is jammer, want dit beteken eintlik dat al wat seker is oor mense se woord is dat niks seker is nie. Ek wil nou nie graag politici uitsonder nie, want wat mens oor hulle sê kan ook baie goed van toepassing wees op bestuurders en voorsitters van organisasies en groot besighede.

Mense se lojaliteite en verbintenisse is dikwels so vloeibaar, aanpasbaar en onvoorspelbaar soos ’n rivier in vloed, maar daar is uitsonderings. Iemand het my ’n storie vertel van ’n boer sonder kinders wat dekades gelede sy buurman se jongste seun oorreed het om as plaasbestuurder vir hom te kom werk.

Die jong man het die geleentheid aangegryp omdat dit vir hom duidelik was dat hy as die jongste seun op hulle familieplaas nie sommer die plaas gaan erf nie.

Die boer het geen kontrak met die jong man aangegaan nie, maar mondelings en met ’n handdruk belowe dat sy plaas eendag die jong man s’n sal word as hy hom goed van sy taak kwyt. Natuurlik het die jong man se pa, broers en vriende vir hom gelag en gesê hy is naïef, maar na sewe jaar vra die boer hom op ’n dag om saam te ry dorp toe.

Daar aangekom stop die boer voor sy prokureur se kantoor waar ’n kontrak lê wat hy sewe jaar tevore opgestel het. Die jong man moet net teken en die plaas word syne. Die storie klink onwaarskynlik, maar dit het gebeur. Net so gebeur daar daagliks dinge rondom ons waar mense hulle woord hou en aan integriteit vasklou. Ons hoor dikwels nie daarvan nie, want mense vertel nie sommer goeie stories in die openbaar nie.

Dit is mos veel lekkerder om skelmstreke, omkopery, swartsmeerdery en skandes oral te verkondig. Wat ons uit die oog verloor is dat dinge gebeur soos wat dit gebeur en elkeen van ons moet net sorg dat ons doen wat ons moet doen.

Die spul ongelukkiges en beswaardes sal ewigbeswaard onvergenoegd bly en ek is oortuig daarvan dat energie wat op hulle spandeer word, meer sinvol op positiewe mense aangewend kan word. Elke mens skakel by elke ander mens in soos ratte van ’n masjien wat die wiele laat draai.

Die nadeel van ’n masjien is dat een stukkende rat die hele kontrepsie tot stilstand kan bring. Gelukkig is ons mense en nie masjiene nie en dit beteken dat geen “rat” onontbeerlik is nie.
Ons kan die stukkende en halstarrige ratte ignoreer, rondom hulle werk of hulle selfs heeltemal uit ons lewens uihaal.

In elke gemeenskap is daar opstokers, nee-sêers (bestaan daar so ’n woord?) en agterstevoor ratte wat hopeloos te veel aandag en lugtyd kry. Hulle raas en blaas en gaan te kere sonder om ’n enkele positiewe verandering te bring en op ’n dag is hulle woeps-waps net weg en die wiel hou aan met draai. Ek het min energie, veral nou hier in die hartjie van die winter en ek het die keuse of ek daardie energie wil mors op ’n stukkende rat of eerder in positiewe doeners wil belê. (Deur Gielie Goedvoel)