Deur Tania Smit
Ek het myself kom afboek in ’n klein dorpie met grondstrate tussen die berge… met ’n masseuse, en ’n kamer met ’n donskombers en ’n kersie buite op my stoep. En fynbostuine en mooiste wit huise met gekartelde staalpatrone vir hekke, en lang stingeltjies regop staalblommetjies vir diefwering. En mure van klip. En oggende wat na plaas ruik en soos leivore klink.
Hier is ’n man wat vir my kos bring. Hy lyk soos Moses, en hy kook soos Zeus. Disse wat hy op ’n silwer skinkbordjie aandra wat met die aarde se liefde bedien word… Blomkoolsop met fyngekapte vars kruie en truffle-olie, tuisgemaakte tamatiesous met polenta en gedraaide bolletjies eiervrug en fyn repies haloumikaas, lang steeltjies wortel en komkommer wat gedoop word in tuisgemaakte hummus met olywe wat in knoffelolie marineer het. En vrugteslaai wat proe soos heuning.
En hierdie liefde en geborgenheid wat ek ervaar so met die aandra van sy daaglikse kos, het my laat dink aan die liefhê van mense deur kos. Aan ’n beminde wat vir my lensiesop gevoer het as ek Kaap toe gery het vir sy vashou van my mens. Aan ’n ouerhuis waar aandete altyd met musiek en koestering en mooi bedien word, aan kinders wat deurweek word met mens se uitreik na hulle deur ons kos. Ons tjoppies, ons plankiesteak, ons pasta met ekstra bacon, die geure van ons liefde. Aan langtafels vriende en liefhê, wat kraak onder die onvoorwaardelike aanvaardig en raaksien van mekaar.
En ek is dankbaar om weer stil te kan raak voor kos. Vir stadige opslurp, lank kou en beproe, repies afskeur en doop en eet. En dan nog ’n bietjie.
Nooit weer sal ek voor ’n rekenaar kou terwyl my vingers e-mails ant-woord nie, nooit weer sal ek hierdie heilige stilraak voor die volmaak van my siel en my liggaam afjaag tussen ’n telefoon en ’n afspraak en ’n rondjaag, en inprop tussen die sekondes van ’n horlosie wat nooit wil rus nie.
Want kos ís ’n journey. En so is eet. En om die liefde daarvan verlore te laat gaan in die afwesige gebaar van inprop in jou mond in, is heiligskending. Vir die mens wat dit met liefde voorberei het, maar ook vir jou liggaam. Wat eenvoudig soveel meer verdien as plastiek, en afjaag, en te gou.
Miskien kan eet weer daardie kosbare minute in mens se gejaagde dag word waar mens jouself kan toelaat om net stil te raak. In te neem. Dankie te sê. En net sag met jou menswees om te gaan. En te dink aan die pad wat die kos moes stap om op jou bord te kom. En die tyd wat iemand geneem het om met sy hande jou liggaam te voed.
Dit sal goed wees as dit van nou af so kan wees. My hele wees smag daarna. Genoeglikheid.