Deur Johan Strasheim
Deur Johan Strasheim
Ek is maar oorwegend ’n “numeraat”. Dit wil sê ek sal eerder iemand se IDnommer onthou as sy naam. So gemaak en gelaat staan, sê hulle.
Numerate is beter met syfers as met woorde. Dit is nou maar net so. Nume-rate verstaan heeltemal wanneer iemand verduidelik hoe wiskunde en sekere dinge soos die integraalrekene – dis nou calculus – en trigonometrie – dis nou driehoeksmeting – “mooi” kan wees.
Vir sulke mense is Pythagoras se teorie amper vanselfsprekend en staan hulle in verwondering dat almal dit nie ken en waardeer nie – en dan praat ek nie eers van goed soos byvoorbeeld die waarskynlikheidsteorie, Laplace-transformasies, Fourier-reekse en al die ander wonderlike wiskunde wat oor die jare die fisika en wetenskaplike teorie onderskraag het en dit werklik, tasbaar en prakties help maak het nie.
Logika en die simmetrie van dinge is ons kos en dis soos ons daarvan hou. Rye en reekse is die toonbeeld van orde en jy ervaar ’n spesiale tipe lekkerkry wanneer jy die patroon raaksien en ontsyfer. Geen pryse nie, net goedvoel – sommer net vir jouself. Syfers, syfers. Numerate kan gewoonlik pi tot ’n meer-as-nodige aantal desimale aframmel. Ek beperk dit maar tot sewe desimale; soos 3,1419526…
’n Ou hoef nou seker nie “carried away” te raak nie. Ek gaan nie eers begin met priemgetalle nie!
Dan kry jy hierdie oomblikke waar jou syferbrein nie meer kan kers vashou nie. Wanneer jy voel soos ’n vis op droë grond. Jou linkerbrein afgeskakel word…
Jy het nou net gehoor jou ou skoolmaat se seun het tragies verongeluk. Jy het hom goed geken as skoolseun en later as student op universiteit. Dit is ’n verlammende skok. Die seun het as’t ware voor jou grootgeword. Jou gewoonlik baie ratse brein kom tot stilstand.
Wat sê jy vir ’n vriend wat so iets oorkom? Waar kry jy die woorde om oor te dra hoe jy voel en hoe jy aan hulle dink?
Jy wil ’n e-pos skryf, maar dit sukkel maar kwaai. Uitendelik kry dit gestalte.
Hallo my ou vriend.
Ek is so jammer oor die ramp wat julle gesin getref het!
Ek dink al vir twee dae wat ek vir jou wil sê, maar die woorde ontbreek. Kinders moet hulle ouers begrawe. Nie andersom nie. Ek wil net hê jy moet weet ek – ons – dink baie aan julle in hierdie tyd van seker die mees intense hartseer wat ’n ouer kan ervaar. Ek weet jy weet dit, maar ek sê dit maar in elk geval. Ek kan net dink dat so iets alles in die lewe onbelangrik laat voel en begin mens ernstig wonder wat die sin van alles nou eintlik is. Onthou dan maar die mooi tye en die onvoorwaardelike liefde van ’n kind – dit is tog vir ewig.
Die winde van tyd waai die omgekrapte sand weer glad, maar ’n ou se gedagtes bly maar staan – vasgevang in die kinderkuns van toeka se tyd in ’n boksie bo in jou kas, die foto’s teen die yskasdeur, die vergeelde vadersdagkaartjies en die ou uitgediende kersgeskenkies. Die hordes herinneringe. Dit is ook reg so.
Sterkte aan julle, my vriend. Dit is ’n tawwe tyd om te verwerk.
Jy lees dit oor en oor voor jy die boodskap die kuberruim instuur. Dit is darem hartverskeurend hartseer. Jy staar sonder woorde vir die skerm voor jou vir ’n rukkie. Hulle sal dit weldra kry en lees.
Dis is darem maar net soveel makliker om moeilike somme te maak.