Verwyte en verwytgoeters

Deur Poem Mooney

Ek het vanmôre diep gedink oor die woord verwyt, dit is mos wanneer jy iemand berispend op ’n fout wys – of wanneer jy iemand sy foute verwyt. Byvoorbeeld: ’n gebrek of ’n tekort of die een of ander afwyking, veral ten opsigte van die verskille tussen mense. Dit hang ook af hoe mense jou tipeer.

Onwillekeurig het ek gedink aan die Paulusse van Dankoord, een van die spogplase in die Klein Karoo. Hulle was nie ’n groot familie nie, net drie, maar hulle byname sal my altyd bybly. Die ouers, oom Saul Windgat en sy vrou alombekend as Ant Dik Deel, en hul enigste seun, Klein Willempie.

Willem was nie regtig klein nie, die naam was eintlik ’n naam wat hom ten laste gelê is, deur ’n stelsel wat jou eintlik moes verkleineer. Die verkleineren­de opmerkings wat hy moes verduur vanweë die naam het van hom ’n bitsige mens gemaak.
Dit grief my vandag nog as mense na ons verwys as “my mensies”, asof ons dwergies is. Of sinne soos: “Kyk hoe lyk die stomme ou dingetjie” vir ’n baba wat in die warm son rondgedra word. Of: “Ai, my suster, ek is tog te jammer vir Petatjie van ou Nene Roeslyn.”

Maar laat ek liewer my gedagtes orden, want ek wil vandag praat oor verwyt, verwyte en verwytgoeters.
Ek wil my storie verder neem na die Paulusse van Dankoord en hulle baas, ou Blink Ben Botha van Dankoord.

Oom Ben was bekend as ’n vooruitstrewende boer. Hy was ’n man uit een stuk, maar hy het ook die gewoonte gehad om te spog oor sy “mensies” of sy “volkies”, asof hy hulle geëien het, en net soos ou Blink Ben wyd en syd ge­kritiseer is deur sy vreemde eienaarskap van sy plaasarbeiders, het ook die Paulusse deurgeloop.

Die meeste plaasarbeiders in die distrik het altyd iets te sê gehad oor Oom Saul, Dankoord se plaasvoorman. Na hulle mening was hy net ’n grootdoe­nerige “baas se boy”. Want so het hy volmag gehad om die plaasbakkie te be­stuur as die plaasmense dorp toe gery moes word om inkopies te doen, ou Dik Deel links voor. Ou Saul Windgat het die inventaris gehou van al die plaasimplemente. Hy was ’n spoggerige trek­kerbestuurder en boonop altyd pynlik netjies en presies op sy voor­koms.

Ou Dik Deel moes ook gedurig deurloop onder die lastertonge, omdat sy uitgekryt is as ’n hoogmoedige Bastervroumens. Die nydig­heid het tot gevolg gehad dat oom Saul en sy familie “gatkruipers” genoem is.

Willempie is ook nie deur die skerp tonge gespaar nie, omdat hulle geglo het die onderwysers het hierdie klein brakhondjie voorgetrek, omdat hy net te slim was met sy bek.

Die Paulusse moes gedurig hoor dat hulle hulle verniet so hoog hou omdat hy Blink Ben se voorman is. Dat hulle ook maar hulle koffie uit verwytbekers moes drink, en dat hulle hul pap en vleis uit verwytborde moes eet.

Hulle was maar net soos die ander plaaswerkers ou Blink Ben Botha se “mensies”, sy “volkies”, ’n staatma­ker-“jongetjie”.

Op hierdie noot het my gedagte weer gedwaal na die IKS-werkswinkel wat ons verlede jaar op Dysselsdorp bygewoon het.

Die werkswinkel is in Engels en Afrikaans aangebied; Afrikaans om­dat dit volgens die aanbieders die taal van die plattelandse mense is.

Een van die aanbieders van die Afrikaanse deel van die werkswinkel maak toe die fout om die deelnemers te prys oor die intelligente bydraes wat hulle gelewer het. “My mensies,” het sy gesê, “julle ken mos die intellektuele eiendom van plant- en dierelewe. Ek voel trots op my mensies, wat selfs die kulturele gebruike en die betekenis van hulle stam-kleurtjies ken.”

Ek was baie trots toe een van ons stamlede opstaan en ’n spreukbeurt aanvra: “Nee, dame,” het hy gesê, hier ge­bruik ons nie meer sulke verkleinwoord­jies nie. Veral nie as jy met groot­mense praat asof hulle klein kindertjies is nie.

“Verkleinwoordjies,” het hy verder gesê, “is woorde wat aanstoot gee.”

Sy inset het ’n dawerende applous tot gevolg gehad.

Net soos die woorde “my mensies” het baie ander verwytwoorde ’n kloof in my hart gemaak. Dit is woorde wat ek haat, want verleë mense word altyd verwyt. Dit is waarom ek persoonlik nooit mense lek of soebat nie.

Ek eet nie verwytkos nie, ek vat nooit verwytgeld nie. Ek dra nie verwytklere nie, want ek weet vir ’n feit God sorg vir die mossies.

Sodra iemand my verwyt oor ’n guns wat hy aan my wil gee, staan ek terug. Daardie dubbel K, senter A speel nie op my TV nie, want sien, mense doen gun­se vir mekaar sodat hulle jou kan beheer.

Vir die derde keer vanmôre moet ek so ’n bietjie afdwaal van my mymering oor verwyte en verwytgoeters, met die volgende werklikheidstorie.

Ek het iets by Ousie Meisie Blom geleer. Iets, ’n lewensles, wat ek nooit sal vergeet nie.

Ek het langs haar in die Toe­komsrus Gemeenskapsaal gesit. Ek was daar omdat ek Auntie Annie van Wyk, my tante, se pensioengeld moes gaan afhaal.

Daardie môre het sy, Ousie Meisie, met my gesels oor die verwytgeld waarvoor jy baie vernederings en verwyte op jou oudag moet verduur.

“Sien jy, Meester Poem” het sy gesê, “kyk hoe moet ons vanmôre aanskuif van stoel tot stoel na ’n dooie masjien wat ons die verwytgeld moet aangee.”

Sy het diep gesug voor sy verder ge­praat het: “Verbeel jou ’n lewelose ding wattie eers kan praat nie, gee jou geld. ’n Onpersoonlike, bloedrooi mas­jien wat staat en bewe soos hy jou geld aftel.”

Sy het weer gesug en toe sê sy ferm: “Ek dink dit is die laaste keer wat ek so behandel gaan word. Geld wat my wel en wettig toekom, word sommer net uitgespoeg, omdat ek my eie duimdruk moes afgee. My eie duimafdruk, my eie stukkie persoonlike trots.

“Ek dink, Meester Poem,” het sy verder gepraat, “dis die laaste keer dat ek my so gaan verneder.”

Toe dit haar beurt was, het sy trots opgestaan en vorentoe geloop.

Twee weke na ons gesprek is Ousie Meisie Blom oorlede. Ek het gedink oor die verwytkos wat mense soms moes eet, die verwythuise waarin hulle moet bly en die verwytpensioentoelaes.

Ek het gedink aan die gedig, Pensioentrekkers, wat ek geskryf het na my laaste gesprek met Ousie Meisie Blom en sal graag enkele strofes wil aanhaal:

Vooroorgeboë, teen die wind
geknakte riete
voor stormgeweld
stap hulle
wag hulle, sommige
al van vroegmôre, op die verwytgeld
waarvoor hulle verstoot word op oudag…

Van bakboord na stuurboord
blindes, kreupeles, gesiggestremdes
kinders en hul ouers
hondverleë verdra hulle die ongevraagde
beledigings
en die ongeduld van onpersoonlike
agente, van
’n yskoue staatsbestel gelate –
mooiweer, stormweer ten spyt…

Skielik doem Ousie Meisie se gesig van daardie môre weer voor my op. Die wange en die neus, bloedrooi van opgekropte emosie:

waar hulle in ’n yskoue gemeenskapsaal,
uur na uur, moeitevol van stoel tot stoel
versit…

…waar hulle hoopvol
huiwer voor die rooi masjiene
wat outomaties reageer op duimafdrukke
en die aangevraagde data,
deur primate
wat intelligent so lyk op die oog af
met pynlike presisie, die meganiese
toestelle voer…

Die aksie word oor en oor herhaal
met doelgerigte repetisie,
voordat die rooi masjiene uitbetaal.

Ja, Antie Meisie. Jy rus nou salig in vrede, maar vandag, baie jare later, sien ek nog steeds die ellelange rye voor die ATM’e, hoe die mense hoopvol staan en wag, vir die verwytgeld.