Ontdek die plaasrestaurante van die Klein Karoo!

Foto: De Krans Wynkelder

EEN van die lekkerste dinge daarvan om in die Klein Karoo te woon is die pragtige plase wat die dorpe omring. En op baie van hierdie plase is verruklike restaurante wat wag om inwoners en besoekers aan die streek te onthaal.

Om uit die dorp te ry vir ’n ete voel soos ’n mini-wegbreek, en die ligging van dié plaasrestaurante is só beeldskoon dat jy weliswaar voel asof jy met vakansie is.

Restaurantbesoekers sien buitendien nét soveel uit na die ervaring as na die ete self, en wat is nou ’n beter ervaring as om die dorp agter te laat en die omliggende vlaktes of klowe in te vaar vir ’n lekker kuier? Die Hoorn se Kosrubriek vertel die week meer van ons plaasrestaurant-juwele.

Na die noorde van Oudtshoorn kronkel die R328, bekend as die Grottepad, en slegs 13 km buite die dorp is die afdraai na die skone Schoemanshoek, met die Karusa-wynkelder wat middagete bedien en waar jy wyn, handgebroude bier (craft beer) en jenever (gin) kan proe wat uit hul eie wingerd en kelder geproduseer word.

Karusa
Karusa bied ’n unieke al fresco-ervaring met gemaklike buitesitplekke langs ’n groot grasperk, veilige kinderspeelplek, pragtige dam en asemrowende berguitsig. Hul spyskaart is vars, smaaklik, konstant in kwaliteit en bied baie goeie waarde vir geld; en daar word boonop gesê dat hul pizzas van dié beste in die streek is. Karusa is uiters gewild – veral op Saterdae – en besprekings is noodsaaklik. Hulle is oop van Maandag tot Vrydag, 09:30 tot 16:00, en op Saterdae en openbare vakansiedae van 10:00 tot 14:30. Hulle is gesluit op Sondae, Goeie Vrydag, Kersdag en Nuwejaarsdag. Kontak Karusa by 044 272 8717, of e-pos na info@karusa.co.za.

Ons ry dan so ’n bietjie verder noord, Schoemanspoort in, en ons arriveer by The Old Mill Lodge & Restaurant.

The Old Mill Lodge & Restaurant
Die rustige bergplaas-atmosfeer by The Old Mill Lodge & Restaurant bied jou die kans om te ontspan soos jy in die dorp eenvoudig nie kan nie. Die oorspronklike ou meul waarna die plaas vernoem is, is steeds in die historiese restaurantgebou te siene en is blykbaar 150 jaar oud. Saam met die uitsig oor die berge, die tuine en die Grobbelaars­rivier wat die plaas kruis, maak dit van The Old Mill Lodge & Restaurant een van dié rustigste plaasrestaurante in die streek. Hulle is 7 dae ’n week oop van 08:00 tot 22:00, en hulle à la carte-spyskaart spesialiseer in veral wildsvleis. Bespre-kings is noodsaaklik.

Kontak die Old Mill Lodge & Restaurant by 044 272 7308 of e-pos na oldmill@mdwireless.co.za.

Na die ooste van Oudtshoorn neem ons die N12, rigting De Rust, en so 24 km buite die dorp lê die Domein Doornkraal Padstal aan die linkerkant.

Domein Doornkraal Padstal
Min mense weet dat hulle hier ook ’n smul­lekker plaasete kan geniet, op die stoep of as padkos. Ouma se spyskaart, sê ’n bordjie soos mens instap. Langs die stoep brand ’n vuur vir dié Klein Karoo-juweel se spesialiteit: Roekelose Roosterkoeke, elke dag vars voorberei en tradisioneel op die kole gebak. Die lang lys van vulsels sluit alles in waarvoor ons lief is: Brêkfis met spek en eiers, souserige skaapvleis, Camembertsmeer met groenvye en vele meer. Hulle is oop van Maandag tot Vrydag, 08:00 tot 17:00 en op Saterdae van 09:00 tot 15:00. Kontak Doornkraal Padstal by 0827635296 of e-pos na wyn@doornkraal.co.za.

Na die suide neem die R328 ons in die rigting van Mosselbaai, en net so 7 km buite Oudtshoorn draai ons regs af na De Zeekoe Gasteplaas. Daar vind ons De Windpomp-restaurant.

De Windpomp @ De Zeekoe
De Windpomp is die perfekte keuse vir ’n romantiese skemerkelkie, ’n verjaardagpartytjie of ’n werksfunksie. Die restaurant kyk uit oor idilliese tuine en, na die westekant, die Olifantsrivier en die asemrowende Klein Karoo-sonsondergang. Hulle bedien daagliks ontbyt aan gaste en besoekers, en aandete met ’n watertand à la carte spyskaart. Hulle vuuroond-pizzas word ook wyd besing as uit die boonste rakke.

Klein funksies kan enige tyd van die dag plaasvind en hulle is volledig gelisensieer vir die verkoop van alkohol. Hulle is elke dag oop vir ontbyt van 07:30 tot 10:00. Aandete word van 18:00 af bedien, maar gaste moet voor 19:30 arriveer.

Besprekings is noodsaaklik. Kontak De Windpomp by 082 551 3019, of e-pos na info@dezeekoe. co.za.

Sou ons na die weste ry, neem ons natuurlik die R62 en so 7 km buite Oudtshoorn draai ons links na Volmoed. Daar gaan kuier ons by die wonderlike La Plume Boutique Guest House.

La Plume Boutique Guest House
In ’n majestueuse Victorianse huis, geleë te midde van groen grasterrasse en welige tuine met ’n met skouspelagtige uitsig oor die Karoolandskap en die Swartberge as agtergrond, verwelkom La Plume hulle gaste in ’n verkwikkende Klein Karoo-oase. Begin jou dag met ’n heerlike ontbyt of sluit by hulle aan vir ’n smullekker middagete, veral Sondagmiddae! Bespreek
’n aandete of spesiale geleentheid, en word getrakteer op stylvolle à la carte óf buffetstyl cuisine. In die wintermaande skep hulle groot kaggels ook ’n warm en gesellige atmosfeer. 

Besprekings is noodsaaklik. Kontak La Plume Boutique Guest house by 044 272 7516, of stuur ’n e-pos aan stay@laplume.co.za.

Verder wes langs die R62 lê die pragtige Calitzdorp en daar kuier ons by De Krans Wynkelder in Stasieweg.

De Krans
By De Krans se bistro-restaurant kan gaste heerlike ontbyt en middagete geniet, en ook van die beste wyne in die streek proe. Etes word bedien binne ’n lugverkoelde area of buite onder die wingerdprieel. Kinders kan heerlik speel by die speelarea en troeteldiere (aan ’n leiband) is ook welkom. Daar is selfs ’n groot skaakbord wat groot vermaak vir die hele familie bied. Gaste kan langs ’n wingerdroete deur die plaas stap of deelneem aan die jaarlikse vrugtepluk van appelkose, perskes en suikersoet hanepoot. Funksies soos verjaardagpartytjies en ooievaarstees kan gereël word en daar is ook ’n lokaal beskikbaar vir vergaderings van tot 20 mense. 

Besprekings is noodsaaklik vir vakansiedae asook vir groepe van 8 of meer.

Die restaurant is elke dag vanaf 10:00 tot 16:00 oop (kombuis sluit 15:30), behalwe op Goeie Vrydag en Kersdag. Kontak

De Krans by 044 213 3314 of besoek hulle webtuiste by www.dekrans.co.za. (Deur Robert Koen)