Star Test toets al 15 jaar voertuie

Van links is Star Test voertuigtoetssentrum se huidige span Ronel Mathee (admin klerk), Lluwellyn Van der Westhuizen (pit assistent), Sonja Knight (eienaares), Janneman Jonck (“kleinbasie”), Genevieve Knight (bestuur verteenwoordiger), en Andries Lombaard (senior ondersoeker van voertuie).

Enigste sentrum van sy soort

STAR TEST voertuigtoetssentrum in Randstraat is die enigste private toetssentrum van sy soort op Oudtshoorn, en dien die inwoners van die Klein Karoo al vir die afgelope 15 jaar sonder onderbreking. Hierdie is ’n besonderse mylpaal in vandag se ekonomiese klimaat, waar veral die Covid-pandemie daartoe gelei het dat vele besighede hul deure moes sluit.

Die besigheid is op 6 Januarie 2007 deur wyle Ivan Knight geopen, wat tot en met sy skielike afsterwe in Desember 2018 die gesig van Star Test was.

Tans bedryf sy vrou Sonja Knight en sy dogter, Genevieve Knight die besigheid, wat nie nét padvaardigheidstoetse aanbied nie.

“Ons is natuurlik ’n voertuigtoetsstasie, en dus kan mense hul voertuie na ons toe bring vir padvaardigheidstoetse, maar ons bied ook ’n reeks ander dienste aan wat die maak en opsit van nommerplate insluit, asook die installasie van DataDots wat nodig is vir wanneer ’n voertuig polisieklaring vereis,” sê Genevieve.

Volgens Genevieve het Star Test geweldig gegroei oor die jare heen, waarvoor sy en haar span baie dankbaar is. Die tegnologie wat hulle gebruik het ook veral oor die afgelope vyf jaar gevorder, en het Star Test ’n nuwe briektoetser aangeskaf wat volgens Genevieve die voertuie weeg en die brieke dan slaag/afkeer gebaseer op sy gewig en briekkrag, of force. “In die verlede moes die ondersoeker self die brieklesing uitge-werk het volgens die voertuig se tarra-gewig op die lisensieskyfie, wat aansienlik meer tyd gevat het,” sê sy.

Met hul 15de bestaansjaar moet die span ook ongelukkig vir Andries Lombaard, hul senior ondersoeker van voertuie, groet.

Andries, beter bekend as oom Dries, is reeds van die begin af deel van die span, en tree amptelik op 28 Januarie af.
“Met ons verjaarsdag wil ons graag al ons lojale kliente bedank vir 15 jaar se getroue ondersteuning. Sonder julle sou ons nie hierdie mylpaal kon bereik nie!”

• Vir meer inligting oor Star Test voertuigtoetssentrum en hul dienste, kontak 044 272 0756, of stuur ’n e-pos na startestvts@gmail.com. Alternatiewelik, gaan besoek hulle te Randstraat 49.

Gollie Kammies (links), saam met Ivan Knight. Kammies, destyds ’n drywer van Een Stop Ford – nou bekend as Oudtshoorn Ford – was Star Test se heel eerste klient op 6 Januarie 2007. Knight is in 2018 skielik oorlede.