Pfizer- en J&J-’booster’ beskikbaar op Oudtshoorn en in Kannaland

INWONERS van die Groter Oudtshoorn-distrik en die Kannaland-distrik kan nou hul versterkings- inentings (boosters) kry.
Mense wat die Pfizer-inentings gekry het, kan ses maande ná hul tweede dosis ’n Pfizer-versterkingsinenting by een van die klinieke in die streek ontvang.

Diegene wat die enkeldosis J&J-entstof ontvang het, kan twee maande daarna ’n J&J-versterkingsinenting by een van die klinieke of die Mediclinic Klein Karoo kry.

Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement Gesondheid in die Tuinroete Distrik, is daar tans genoeg voorraad vir Pfizer- en J&J-versterkingsinentings by klinieke in die Groter Oudtshoorn en Kannaland.

By die Mediclinic Klein Karoo word J&J-versterkingsinentings vir mense ouer as 18 jaar sedert Maandag (17 Januarie) toegedien.

Die Mediclinic se vaksiene-eenheid is Maandae tot Donderdae van 07:30 tot 15:30 en Vrydae 07:30 tot 12:00 oop.
Neem jou identiteitsdokument saam. Lede van mediese fondse moet ook hul mediese fondskaart saamneem.
Die versterkingsinentings is gratis.

Dae wat klinieke oop is vir die inentings:
Oudtshoorn en Bongolethu – Maandae, Woensdae, Vrydae; Bridgton – Woensdae, Vrydae; Toekomsrus – Donderdae; De Rust en Dysselsdorp – Vrydae; Calitzdorp Bergsig – Dinsdae; Calitzdorp-kerksaal – Donderdae; Ladismith Nissenville – Woensdae; Ladismith-kerksaal – Maandae; Amalienstein; Zoar Kliniek – Vrydae; en Zoar Sportklub – Woensdae. (Deur Liesel le Roux)