DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het op 11 Januarie in ’n persverklaring ’n dringende beroep op die publiek van die Groter Oudtshoorn gedoen om diefstal en vandalisme te rapporteer wat plaasvind by die Oudtshoorn, Dysselsdorp en De Rust Rioolsuiweringsaanlegte, waar vandalisme en diefstal van toerusting en omheinings tans ’n groot probleem is.
Volgens die Munisipaliteit is al drie hierdie aanlegte uiters gevaarlik en beskik hulle oor diep damme. Die publiek loop die gevaar om te verdrink sou hulle in die damme te lande kom,” het die persverklaring gesê.
“Om hierdie diefstal hok te slaan, het die Munisipaliteit die publiek se hulp nodig om hulle oë en ore te wees. Gedeeltes van die werke by die De Rust Rioolsuiweringsaanleg is einde November 2021 omhein en ons begin nou in Januarie 2022 om gedeeltes van die heining by die Oudtshoorn Rioolsuiwerings-aanleg te vervang,” het Chris Swart, bestuurder van water en rioolwerke, genoem.
Luidens die persverklaring is dit ’n groot finansiële uitgawe om elke keer die heinings te vervang, en dit dra daartoe by dat befondsing uitgeput raak en ander belangrike projekte nie aandag kan geniet nie.
Chad Louw, uitvoerende bur-gemeester van Oudtshoorn, vra alle inwoners om trots te wees op ons dorp en verantwoordelikheid te neem as dit kom by munisipale eiendomme. Hy noem dat inwoners van die Groter Oudtshoorn moet besef dat indien ons gesteelde materiaal koop en verkoop, dan steel ons eintlik van onsself. Swart het bygevoeg dat swem en speel in damme streng verbied word.
Om diefstal en vandalisme van munisipale eiendom te rapporteer, kontak die Munisipaliteit op 044 203 3090/3086, en na-ure op 044 203 7800.
Help die Munisipaliteit om diefstal by rioolaanlegte hok te slaan
