NUWESTRAAT op Ladismith, die straat waarin die plaaslike Korrektiewe Dienste geleë is, doen beslis nie sy naam gestand nie. Dit is om die waarheid te sê ’n straat wat menige inwoner probeer vermy. Vanaf Suidstraat, die hoofpad wat verby
Ladismith loop, is daar geen teken van vars teer op die oppervlak nie.
Drie gevangenes het egter onlangs ingespring om die straat meer begaanbaar te maak.
Dié vrywilligers het hul hoof-de gevra of hulle nie iets aan die boonste gedeelte van die straat tot by die tronk kon doen nie. Volgens een van hulle het hulle besluit om in te spring as die munisipaliteit dit nie self kan doen nie, selfs al is dit net ’n tydelike oplossing.
Gewapen met kruiwaens en grawe, en onder die toesig van ’n beampte, was dit gou duidelik dat die drie manne ernstig was oor hul vrywillige taak. Daar is gedraf met die kruiwa vol sand, want die manne wou klaarmaak voor die Karoo-hitte toeslaan.
Menige verbyganger het hulle harde werk met deernis gade geslaan. ’n Inwoner, David Mentoor, sê hy is baie beïndruk met die drie flukse gevangenes. “Ek is stomgeslaan deur dit wat ek vandag hier sien. Ek voel om self om moue op te rol!” (Deur Deon Meyer)
Nuwestraat word nuwer straat
Gevangenes besig met herstelwerk aan die toegangspad na Korrektiewe Dienste op Ladismith. Foto: Deon Meyer