Mans met pangas bestorm kafee

DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n klagte van roof nadat sewe mans na bewering op Woensdag, 12 Januarie ’n kafee in Adderleystraat bestorm het, met pangas (kapmesse) in hand.

Drie van die mans is reeds kort na die voorval in hegtenis geneem.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die voorval omstreeks 06:04 die oggend by Kareem Halaal Frozen Shop plaasgevind.

“Die mans het na bewering die winkel ingestorm, eiendom beskadig en ook die eienaar beseer.

Daar is kruideniersware ter waarde van R160 gesteel,” sê Visser.

Visser sê die winkel behoort aan twee broers, vermoedelik van Egiptiese afkoms, wat hul aanvallers as familie van hulle geïdentifiseer het. “Dit wil voorkom voorkom of die motief nie die diefstal was nie, maar dat hulle die eienaars wou afskrik,” sê Visser.

Volgens Visser is die drie mans wat kort na die voorval in hegtenis geneem is van Bredasdorp. (Deur Stefan Skapie Goosen)