Yolande wen witwarm Attakwas

Attakwas 2022 Photo by Jacques Grobler

TERWYL baie Oudtshoorniete Saterdag (15 Januarie) in die gerief van hul huise se lugversorgde sitkamers voor hul televisies gesit het om aan die bloedige hitte te ontsnap, het Oudtshoorn se fietsryster Yolande de Villiers en honderde ander fietsryers geswoeg om die Attakwas Extreme Uitdaagren* tussen Oudtshoorn en Groot Brakrivier te voltooi.

De Villiers en Simon Andreassen van Denemarke was onderskeidelik die vroue- en manswenner van die uitmergelende ren oor 121 km wat vanjaar die 16de keer plaasgevind het. Andreassen se wentyd was 5 uur 11 min en 20 sek en De Villiers s’n 6 uur 6 min en 18 sek.

Volgens die organiseerders van die Attawas, Dryland Events Management, was nie een van die deelnemers om 06:30 by die wegspring op Oudtshoorn onder enige illusies oor wat voorlê nie, met die kwik wat toe al op 30 grade C gestaan het.

Al het van die deelnemers se fiets­rekenaars getoon dat die temperatuur op plekke tot 50 grade C gestyg het, was die hoogste temperatuur wat Dryland gemeet het 47 grade C.

“Ek het nog nooit so iets ervaar nie,” het Andreassen van die hitte gesê. “Dit was die moeilikste fietsren waaraan ek al deelgeneem het. Die roete, wat reeds moeilik is, is deur die temperatuur nog baie moeiliker gemaak,” het hy gesê.

De Villiers was van die begin af die voorloper. “Ek hou daarvan om vinnig te begin,” het sy gesê. “110 km solo was regtig taai, veral in dié hitte, maar ek het net aangehou, by elke geleentheid water oor myself gegooi en baie meer gedrink as wat ek gewoonlik doen,” het sy gesê, baie in haar skik met haar oorwinning.

Altesame 750 bergfietsryers het vir die wedren ingeskryf waarvan 336 oor die eindstreep gery het.

  • Die volledige naam van die ren is die Momentum Medical Scheme Attakwas Extreme, aangebied deur Biogen. (Deur Stefan Skapie Goosen)