Kingdom News: Verskillende gebede vir jou

Bo: Stormie Omartian se boek, Seven Prayers That Will Change Your Life Forever.

Elke persoon se pad wat hy met die Here stap is anders, maar tog is daar somtyds ooreenkomste tussen wat ons dink en hoe ons dinge doen.

Dit is so maklik om op ’n Sondag te redeneer, dat mens moeg is en nie die oggend of aand kerk toe gaan nie. Baie kerke saai regstreeks op Facebook of YouTube uit, dan kan jy in die gemak van jou huis, bed of sitkamer die diens kyk.

Daar is niks verkeerd daarmee nie, inteendeel is dit ’n wonderlike manier om mense te bereik wat dalk nie vervoer of ’n manier het om by ’n kerk uit te kom nie. Dit maak dit ook natuurlik makliker vir jou aandag om afgetrek te word, of gou iets anders te doen, en voor jy jou oë uitvee het jy die diens gemis, of nie eers gekyk nie.

Wat ek persoonlik in my lewe besef, en beleef het, is as ek op ’n Sondag nie in die kerk was nie, is my geestelike tenk leeg. Ek voel moeg, mismoedig, raak vinniger moedeloos en die wêreld se probleme lyk vir my net groter.

In die tyd waarin ons leef, is dit asof die lewe nie meer teen 50km/h gelewe word nie, maar teen 150km/h. My ouma en oupa het elke dag tyd gemaak om stiltetyd te hou in die oggend en die aand. Om die tafel gebid, elke Sondag kerk toe gegaan, en wanneer daar iets by die kerk aan die gang is, was hulle daar. Vir my wat dit gesien het en daarmee groot geword het, was ek nie een wat tyd gemaak het vir stiltetyd nie.

Oggende word daar half vaak uit die bed gespring, kinders uit beddens gegooi en gejaag om klaar te maak vir skool en werk. By die werk word daar ingeval en gewerk tot jou brein wil bars.

Vanaand by die huis is dit weer ’n miernes van alles op vier bene voer, huiswerk en kosmaak.

Die gebed om die etenstafel is daai een wat sewe generasies gelede gebid was, ’n rympie sonder die hoog Hollands natuurlik.

So, na ’n lang tydperk van aankarring het ek weer begin kerk toe gaan op Sondae, en die gemoed waarmee ek op ’n Maandag opstaan het soos dag en nag verskil van mekaar.

Ja, dit is nog besig, maar dis asof daar tydens daardie Sondag se preek net ’n lig aangegaan het hier binne wat die belangrikheid van stiltetyd kom aanwakker het.

Hier verwag ek dat God my moet help, en gee waarvoor ek vra, daagliks help, maar ek staan net een maal per week ’n Sondag af om tyd aan hom te spandeer.

Ek gaan krap in my boekrak vir ’n Bybelstudieboek wat ek kan gebruik om in die roetine in te kom. Nadat die kinders by die skool afgelaai word, gaan ek werk toe, lekker vroeg, so net na 07:00 en dit is my stiltetyd.

Dit is wanneer ek my dagstuk lees, Bybel lees en bid terwyl ek na my gunsteling “worship” liedjies luister.

En die gevoel waarmee ek op ’n Maandag opstaan met krag vir die week, is dieselfde gevoel elke dag van die week, want Jesus maak nie net my hart vol nie, maar ek werk aan my verhouding met Hom.

Dit is nie net ’n geval van “bam sorted”, elke dag nie. Ek sukkel steeds party oggende om te konsentreer. Of iets val voor, of ek is dalk weg vir die naweek en nie betyds terug die Sondag vir kerk nie. Sien, dit is ’n keuse.

Dis jou keuse en verantwoordelikheid om tyd te maak vir Hom, en saam met Hom te spandeer.

Om ’n verhouding te bou, en nie net met Hom praat wanneer jy in die knyp is nie. Ek kan my net indink as iemand my net bel wanneer hy hulp of geld nodig het, hoe dit my sal laat voel. Ek sal naderhand nie eers meer die foon optel nie.

Gelukkig is God nie ’n mens nie en skuif Hy ons nie net eenkant toe tot ons weer vir ’n slag nie net met Hom praat wanneer dinge sleg gaan, of ons iets wil hê nie.

So, terwyl ek in die kassie krap kom ek op een van my ouma se boekies af wat my tannie in 2015 vir haar gegee het vir haar 80ste verjaarsdag.

Dis so dun boekie, maar die onderwerp was iets waarmee ek baie sukkel: om te bid.

Vir sommige kom dit maklik, maar ek sukkel met dit, en moenie my eers vra om vir iemand te bid nie, as die oë toegaan is ek al op pad deur toe.

Die boek se naam is “Seven Prayers, That Will Change Your Life Forever,” deur Stormie Omar-tian (81).

Omartain is ’n bekende Amerikaanse Christen- skrywer wat ervarings in haar lewe deel in die boeke wat sy skryf. Voor haar bekering was sy ’n aktrise en sanger wat vyf albums uitgereik het.

Hierdie boek is ’n fantastiese bron vir verskeie gebede, en het my gehelp om baie konsepte beter te verstaan.

As jy hom êrens in ’n boekwinkel teekom, koop hom dadelik. Jy sal nie spyt wees nie. (Deur Angelique Erasmus)