Daar is twee groepe braaiers – dié wat roosters skoonbrand en dié wat hulle was.
Ek brand nog altyd my roosters skoon, al verkort dit die rooster se lewe ietwat. Ek is tradisioneel in daai groep.
So ook is daar etlike houtgroepe. Ek is ’n selfverklaarde houtsnob. My goeie ou vriend Claude stem toevallig heelhartig saam. O ja, daar bestaan so iets!
Laat ek bietjie vertel van hout .. spesifiek braaihout… Daar is hout waarmee jy ’n vleisie kan gaar kry en dan is daar regte BRAAIHOUT. Let wel dat sakke houtskool en die sogenaamde “brickets” nie tel nie. Daar is twee groepe braaiers – die ernstige braaiers wat hout gebruik – en die minder ernstige groep wat die verskeidenheid ander minderwaardige braaimateriaal sal gebruik.
Gasbraaiers tel ook nie, al is hulle hoe gerieflik en vinnig. Daai goed is vir ontbyt gaarmaak by ’n kamp of ’n piekniekplek. Niks meer nie.
Soos alles in die lewe kan mens hout ook kategoriseer. Die eerste kategorie “hout” sluit allerlei swakker tipes hout wat kan brand in, iets wat ’n soort van kool maak en seker hout genoem kan word en selfs simpel goed soos wingerdsnoeisels insluit. Hout wat lekker vlamme maak maar tot as uitbrand, tel ook nie.
Populier is een van hulle. Dan is daar kaggelhout en laastens braaihout. Mens moet nie kaggelhout met braaihout verwar nie.
Hier by ons op die plaas word drie tipes hout gereeld benut; en dit word ook dan afsonderlik in voorraad gehou en gepak, selfs op die stoep onder die braaiplek in netjiese, afsonderlike kompartemente.
Die eerste is Populierhout wat baie handig is want dit brand so maklik soos papier en brand lekker vining en lekker warm vlamme, spesifiek om die houtstofie in die winter aan die gang te kry – en is in oorweldigende groot hoeveelhede hier beskikbaar, maklik om op te saag en maklik om in kleinder stukke te kap.
Die tweede groep is Doringhout omdat dit so volop beskikbaar is – alhoewel baie harde werk om skoon te maak en op te sny. Die ouens wat kla dit is te duur waar dit verkoop word moet ’n keer self kom moue oprol en vir homself kom “hout maak”. Ons sal weer agterna gesels. Dit word op groot maat in ons houtstoof gebrand in die winter en is die ideale hout vir ’n houtstoof – geredelik beskikbaar, in netjies opgekapte stukkies en natuurlik alternatiewelik lekker hanteerbare dik blokke wat lank en warm brand.
Dan is daar ons voorraad hardekool. Die “Rolls Royce” van braaihout, natuurlik ingevoer uit die soet bosveld naby Ellisras. Ellisras – oftewel Lephalale soos dit nou genoem word – is meer beroemd – of is dit berug – vir die reuse Grootegeluk steenkoolmyn (ons het dit destyds die “Grote Griet” steenkoolmyn genoem!) en die nou baie bekende Medupi kragstasie wat skynbaar nie klaarkom nie en dramaties duurder is as wat oorspronklik begroot is. Dié projek is een van ’n hele paar wat stil-stil in ’n ander ordegrootte van finansiële verleentheid ingesteel is.
Ons braai gereeld vir Sondag se middagete en omtrent altyd Vrydagaande. Wat dit telkens spesiaal maak is dat ons bietjie van my “private bin” geniet – met ’n verskil.
Dit is nie wyn nie, maar braaihout. Die baashout van alle braaihout – Hardekool. Wetenskaplikes noem dit Combretum Imberbe.
Die Hardekool boom is baie spesiaal. ’n Stadiggroeinde boom met die digste, harde hout denkbaar. Hulle sê die mense in die ou dae het selfs skoffellemme daarvan gemaak. Daai prag-tige bome op heelwat van Pierneef se pragtige skilderye is presies hy – Hardekoolbome. Sulke “regte” hout is ’n luukse hier in die Wes-Kaap.
Inteendeel, dit is ’n luukse omtrent enige plek! Dit is aangery al die pad van die bosveld in Noord Tranvaal af. Dit ruik lekker, maak lekker warm kole, brand net reg. Ek glo vas dit laat die vleis ook sommer beter proe.
Wanneer ek so in die vuur staar dink ek onwillekruring aan die wyse woorde van ’n Nederlandse wysgeer; “Laat je nooit opbranden door mensen die niet voor jou door het vuur gaan.” (Moet jou nooit laat uitbrand deur mense wat nie vir jou deur vuur sal loop nie.)
Nou ja… (Deur Johan Strasheim)