Deur Johan Stasheim
Romana en ek is hierdie komende Sondag 40 jaar getroud.
Dit was op Saterdag 7 Julie 1979 – Ek onthou die dag soos gister, maar nie al die fyner oomblikke nie; net sulke oomblikke wat soos kiekies van die dag in my geheue vasgelê is.
Ek was in my finale jaar op Tukkies en het my ouers omgepraat dat dit meer ekonomies en effektief sou wees om in die middel van die jaar te trou as wanneer ek klaar studeer het. As bedryfsingenieurstudent is jy natuurlik baie be- wus van optimale planne, effektiwiteit en doeltreffendheid. Daar was ook ’n verdere komplikasie, aangesien ek op ’n weermagkamp moes gaan binne dae nadat my eindeksamen klaar was. Die army het nie veel ooghare gehad vir universiteitsprogramme in daai dae nie!
“As ons saam bly, dan kan ek vroeër begin swot” en “Ek sal baie minder hoef te ry en sodoende petrol spaar”, was maar twee van die redelik flou argumente wat ek vol bravade aangebied het. Nou ja, dit het gewerk, die span ouers het ingestem en ons is getroud. My pa het natuurlik gedink dit is die einde en ek gaan uitsak en die jaar nie maak nie.
Die Saterdag word daar rondgejaag om te gaan seker maak die blomme en die saal is in orde, die troukar is reg en skoon en so aan. My jarelange vriend, Schalk, sou ewe gepas die troukar bestuur – ’n spoggerige goudgeel Mercedes 450.
Wat gevoel het soos ’n ewigheid later is ons almal “ge-collar en ge-tie” by die kerk en die gaste loop in. Ek staan soos ’n bruidegom maar tradisioneel gedwee voor by die kansel en wag vir die bruid om op te daag.
Schalk het my darem nie laat sweet nie en hulle is betyds by die kerk. Nie lank nie, en Romana kom stralend en pragtig met die mooiste glimlag in haar elegante spierwit rok aan haar pa se arm in die kerkgangetjie af. Dit is ’n emosionele oomblik vir almal teenwoordig. Ek en sy draai kansel toe en die huwelik word daar bevestig alvorens die huweliksregister som- mer net daar in die kerk onderteken word.
Die onthaal was natuurlik ’n jolige affêre met ’n klomp studentevriende teenwoordig. Lekker geëet, gedans en gekuier. Maar alle goeie dinge kom ook tot ’n einde en ons moes padgee toe die plek na middernag, eintlik vroeg Son-dagoggend, moes sluit. Ons is huis toe… maar soos studente is, met ’n spul vriende wat saamkom! Ons het nog so ’n rukkie daar gekuier en almal is uiteindelik pootuit huis toe.
Nou ja, my eerste huweliksnag was nog nie verby nie. Juliemaand in Pretoria is baie koud, maar hier teen vieruur die oggend toe staan ek en kar was. Met ’n klomp studentevriende het die Datsuntjie natuurlik erg deurgeloop. Daar was eenvoudig geen manier dat ons op “honeymoon” kon gaan met al die blikke daaraan vas en die “Shoe Shine”-graffiti daarop nie!
Die volgende oggend was ons maar moeg en moes ons die pad Margate toe aanpak. In ons dae is mens na sulke plekke toe vir jou wittebrood. Deesdae gaan die jongmense Switserland en Seychelles toe. Dinge het verander. Maar, ons was hopeloos te arm om aan iets meer luuks te dink. Ek onthou goed hoe ons op die bed gesit en koeverte oopmaak het. Die koeverte sou bepaal hoe ons vakansie sou wees! Gelukkig het die gaste goed gevaar en ons is met genoeg geld die Sondag weg. Dankie tog!
Terug by die huis en ons lewens saam trek weg. Romana werk by die bank, want sy kon nie ’n onderwyspos naby kry nie. Ek is tegnies werkloos as student, alhoewel ek party middae as ’n studente-assistent by die departement werk, min wetend dat dit die begin van ’n lang verbintenis met die akademie sou wees.
Hier sit ek nou, 40 jaar later en kyk terug deur ’n virtuele foto-album. Daar is so baie om voor dankbaar te wees. Die lewe is – en was – baie goed vir my met die wonderlikste ervaringe tot hiertoe. Romana het dit vir my moontlik gemaak om vir ons ’n goeie lewe te maak, ten spyte daarvan dat dit maar broekskeur gegaan het die eerste ruk. Ons twee kinders is teksboekvoorbeelde van wat ouers in kinders wil hê en ’n ma het maar ’n groot hand daarin.
Dankie, my vrou, vir die huise wat jy in tuistes omskep het, vir alles wat jy my geleer het – dinge soos ’n mooi hart, liefde, styl, elegansie en sagtheid, vir die 10 uit 10-ma wat jy vir ons kinders was, vir die baie geduld met al my soms wilde planne oor die jare, vir die derduisende maaltye wat jy vir ons voorberei het, die moed inpraat as die wind nie so lekker in my seile gewaai het nie. Ek het geleer dat as ’n ou hartseer deel, halveer dit, maar as jy geluk deel, verdubbel dit.
Hand aan hand, sy aan sy vir die volgende 40 jaar!
