Ter wille van die vrede

Deur Poem Mooney

EK was baie bly toe die huurmotor voor my tuinhekkie stop en ousie Roeslyn, kiertsregop sien uitklim.

Terwyl die agterryer ousie se bagasie aflaai, het ek my woonhuis binnegestap en die ketel aangeskakel. Toe die water kook, het ousie met ’n groot glimlag in die gang afgestap.

“Môre, Gert!” het sy baldadig uitgeroep. “Home is where the heart is.”

“Welkom, ousie”, het ek ewe gul gegroet. “Praat ons vandag Engels of Afrikaans?” het ek gespot.

“Jy sal my nie glo nie Gert,” het ousie onge-vraagd opgemerk. “Ek sal my eie taal nie verraai om ander mense te beïndruk nie.”

“Jy onthou mos nog vir Memory Morgan? Kale se niggie. Ek het mos by hulle gekuier die afgelope maand. Ek was vir twee maande in Stellenbosch en die laaste veertien dae van Oktober was ek in Mitchells plain by Memory-hulle.”

“Ja, ousie, ek sal vals wees as ek sê ek het jou nie gemis nie,” het ek haar in die rede geval.

“Ek het julle net so gemis, Gert” was ousie se kommentaar.

“In Stellenbosch praat al wat ’n plattelander is, Engels. Die Jansens, die Bitterbasse en almal wie Boland toe getrek het, praat die taal van die imperialiste en weet jy, verlede week in die Kaap was ons familie op ’n uitgebreide toer, Tafelberg met die sweefspoor op. Ons was ook by die tuine in die Kaap, ‘Simon’s Town’ en by ‘Mieliepunt’. Die Strand en al die plekke wat ons besoek het, se mense het Engels gepraat. Ek het ‘point blank’ Afrikaans gepraat.” “En die vreemde mense? Wat het hulle te sê gehad oor ousie se koppigheid, deur net Afrikaans te praat?” het ek ousie se tirade gestop.“Wat dink jy? Ek het aanhoudend Afrikaans gepraat, totdat hulle ook maar saamgesels het. Die lewe, Gert, met sy voortborduur, het my geleer om nie skaam te wees vir my taal nie.”

“Memory werk mos by die ‘Municipality’. Toe ons haar op ’n dag gaan besoek om die inkopies te doen, hoor ek sy sê vir die vroutjie wat voor my in die ry gestaan het, ‘sorry lady, I cannot speak Afrikaans’. Toe sê ek binne in haar gesig vir haar: “Nou hoe het jy die werk gekry as jy nie eens Afrikaans kan praat nie?”

“Toe ’n dronk man verlede week in Willy Boy se motor vasgery het en hy aan die verkeersman verduidelik hoe die ongeluk gebeur het, sak die ‘traffic cop’ op: ‘Sorry sir, I cannot understand Afrikaans.” “En wat het ousie toe gedoen?” het ek half plaerig gevra. “Nee wat, Gert, ek het hom net daar afgestof en in ’n kas weggepak. Ek het net daar vir hom gesê: “Hoe het jy die pos gekry?

Ons kinders word nie in aanmerking geneem nie, terwyl hulle goed gekwalifiseer is en ’n goeie begrip het van Afrikaans en Engels.” Ousie was weer skitterend, het ek gedink.

“Weet jy Gert” het ousie voortgestorm, “jy kan maar self hier by ons ook kyk hoe die mense wat Afrikaans praat, hoe daar teen hulle gediskrimineer word!”

Ek het ousie lank en aandagtig aangekyk. “Ek het gevoel hoe ek bloos, my ore was vuurwarm, want waar ons in sulke situasies betrokke raak, gee ons in ter wille van die vrede.”

“Ousie Roeslyn,” het ek gesê: “Jy is ’n Israeliet sonder bedrog. Dit is hoekom ek jou so gemis het!” Ons het elkeen nog ’n tweede koppie koffie gedrink en in stilte die huis atmosfeer geniet. Toe het ek opgestaan en ousie se bagasie omgestoot na haar huis toe.

Die uitdrukking sal my nog lank bybly. Wat doen ons nie alles nie, ter wille van vrede?

Ek het met ’n beswaarde gemoed teruggestap huistoe. Gedink aan die baie kere dat ons in hierdie land stilgebly het, ter wille van die vrede, of om vredesonthalwe.