Tekens en voorspellings

Deur Poem Mooney

Ek en Ousie Roeslyn het gepraat oor die milde reën wat die afgelope naweek uitgesak het oor ons pragtige dorp, Oudtshoorn.

Elkeen met ’n stomende koppie moerkoffie, het ons in verwondering geluister na die gietende reën op die sinkdak van my stoep veranda.

“Gert,” het Ousie skielik van haar laat hoor. Die onverbiddelike noem van my naam het harder geval as die reëndruppels op die sinkdak, want sy moes harder praat om haarself hoorbaar te maak bo die gedruis van die reën op die stoepdak.

Ek het my koppie neergesit om ’n tweede koppie te skink, toe sy weer probeer: “Gert, ek dink hierdie skielike reën net na die verkiesing wil vir ons iets sê. Iets simbolies, iets sinister.”

“Ja, Ousie,” het ek gesê, terwyl ek ’n genotvolle sluk uit my koffiebeker geneem het. “Wat laat Ousie so dink?” het ek nuuskierig gesê-vra.

“Gert!” het sy my naam vir die derde keer genoem. “Ek het gister sulke snaakse reënwolke in die lug gewaar, kort voor die reën uitgesak het. Hierdie snaakse wolkpatrone wat my aan die dink gesit het, pla my nogal aanhoudend.”

Ousie het nou self heerlik geteug aan haar tweede koppie koffie en toe vervolg sy nadenkend:
“Ek wou nog iets lees in hierdie snaakse reënteken toe trek die lug skielik so snaaks toe en toe val die water met mening uit die reënswanger wolke.”

“Daar het skielik ’n swaar stilte oor die stoep gehang, want die reën het meteens vir ’n wyle opgehou, asof hierdie gesprek iets of iemand in die hemelruim aanraak.”

“Ousie,” het ek meteens die stilte met ’n kra-kerige stem verbreek. “Kan ousie sien?”

Ek het hard gesluk aan my koffie en toe dringend gevra: “Kan Ousie regtig sien soos ons voorsate in die verlede kon, of was dit miskien net blote verbeelding, die aanraking wat u ervaar het, maar nie kon uitmaak wat die teken u wou wysmaak? Wat is dit wat u onrustig maak?”

“Gert ek is, of sal ek maar net sê die afgelope verkiesing pla my, dit het so anders verloop as in die verlede. Daar was ’n goeie gees tussen die mense by die stembus, maar iewers, Gert, was daar ’n pla-gees wat so ’n vae onrustigheid binne in my wakker woel.”

“Ousie,” het ek haar in die rede geval. “Daar is iets soos tekens van die tye, iets waardeur ’n toekomstige gebeurtenis aangekondig word.”

“Gert,” het Ousie my skerp in die rede geval. “Wat het jy in my woorde gelees? Het dit iets te make met die stemmery?”

“Ek wou maar net seker maak of ek êrens ’n spesiale gawe by u en in ons gesprek kon raaklees, want Ousie, ek het mos hierdie vrae en wroeging bekend gemaak in my nuutste digbundel: Digter gedagtes. Die naam van die gedig is ‘Tekens en voorspellings.”

“Ek wil graag sekere opmerkings uit hierdie gedig hier aanhaal waarin ek ons koffiekuiertjie kan verseël.”

“Ek wil die eerste strofe met u deel, Ousie, sodat u die snaakse wolkpatrone net voor die reën kan verklaar. Ek het so gehoop dat dit ’n openbaring kon wees, maar kom ons hoop dit kan nie so erg wees nie.”

“Die mens moet kennis neem van die tekens van die tye, Ousie,” het ek begin lees. Dit waaroor toekomstige gebeure deur voorspellings vergestalt.”
Die stand van die maan,
die invloed van die branders,
tydens eb en vloed, net soos op die gemoedere
van sensitiewe mense.

Die mens moet kennis neem van sterrebeelde,
drome, voortekens en wolkpatrone,
ekonomiese verval, korrupsie, afgodsbeelde,
die nimmereindigende strewe na weelde,
al die sondigheid waaraan ons vaskleef.

Die towerkragte en die Mantra waarmee ons
vroetel is net so ’n groot sonde soos die wit
olifante wat ons in ons selfgeskepte
ivoortorings vertroetel.

Ek het die digbundel toegemaak, net toe Ousie die koffieketel nadergetrek het om ons koffiebe-kers opnuut te vul.

Die reën het meteens weer, met geweld neergestort.

Deur die oop stoepvenster het ons gesien hoe die reënvlae deur sulke snaakse rukwinde aangedryf word.

Ek het gehoor hoe Ousie Roeslyn hardop sug. Haar stem effens gedemp toe sy weer praat.
“Hierdie reën, Gert, voorspel niks goed nie. Iewers in ons land sal dit op ongesonde rampe afstuur.” Ek het nie gereageer op Ousie se opmerkings nie, ek het veel eerder gefassineerd gekyk na die warrelende reënvlae wat met rukke en stote buite rondgedans het.

Wat wil hierdie verskynsels vir ons sê oor toekomstige botsings en botsende belange. Asof sy my gedagtes gelees het, het sy skielik gepraat: “Gert, wil jy nie asseblief die radio aanskakel nie. Ons moet na die nuus luister. Ek kry skielik hierdie snaakse gevoel dat hierdie landswye reëns groot skade aangerig het. Ek weet nie waar nie.”

Daar was ’n harde slag toe die wind die stoepvenster toeklap en toe kondig die radio die nuus aan oor die vloede in die Oos-Kaap. Huise en motors wat weggespoel het.

Ousie Roeslyn se oë was groot toe sy na my kyk. Ek het die koffie ketel van die gasstoof afgehaal en vir ons koffie geskink. Buite het dit onophoudelik gereën. (Deur Poem Mooney)