So sit ek en bekyk hulle. Elke oggend. Vir die afgelope 9 jaar. Skouer aan skouer. Hondjie aan die leiband wat so trek-trek snuffel teen als wat regop staan. Hulle hou nie hande vas nie, maar almal weet van die twee ooms. Vriendelike ooms. Dit moes maar moeilik vir hulle in die ou bedeling gewees het. Moeilik om so in die strate te loop, met dié dat almal van hulle geweet het. Die manne in blou was nie altyd so vriendelik met hulle soos wat hulle vandag met die buurt se hondjies is nie.
Elke oggend word elke ou hondjie in die buurt bederf met ’n lekkerny uit een van die ooms se deurgevatte broeksakke. Daarna volg die gegroet en geruik van die hondjies deur die tuinhekkie voordat hulle so aanskuifel. Dis juis hier waar hulle so nou en dan vir mekaar oogknip. Dit het ek al self gesien.
Soos die storie loop, was dit daardie einste oogknip wat die een konstabel snuf in die neus laat kry het. Dit het glo beide die ooms omtrent twee weke geneem voordat hulle weer enigsins hul oë ordentlik kon oopmaak, wat nog te sê van oogknip. Daar word nou nog onderlangs vertel hoe die konstabel se knuppel bekend gestaan het as “Ou reguitmaker” na daardie bloedige middag voor die DBV se aansoekkantore. Dis glo nadat die konstabel laggend wou weet waarom twee mans nou eintlik saam ’n Franse poedel wou aanneem, dat die onwettige oogknippery gelei het tot die nuttiging van “Ou reguitmaker”. Ook die rede waarom een van die ooms vandag nog donkerbril dra.
Maar soos dit die twee ooms se geaardheid pas, het hulle nooit ’n wrok gekoester nie. Hulle het hulself wel skaars gehou totdat die skille tot so mate van die mense en kerke se oë afgeval het, dat die kerkraad hul selfs een Sondag persoonlik na die oggenddiens genooi het. Hulle het dit natuurlik vriendelik van die hand gewys, maar volgens tannie Mandy by die kerkkantoor kom daar nog elke maand ’n bedraggie in die rekening in. ’n Stewige tiende!
Maar waar was ek? Die ooms en die honde, vriendelike ooms, nogals vriendelike honde ook. Was nog altyd gewees. Elke oggend met hul eie hondjie deur die strate en die gevoer van die buurt se honde. Vandag is almal tog te bly as die tweetjies so verby die tuinhekkies skuifel. Leibandjie in die hand. Hulle is die bevestiging dat ons buurt, alhoewel so baie dinge verander het, tog dieselfde gebly het. Veilig gebly het.
Maar vanoggend is die twee ooms nêrens te siene nie. Die honde is onrustig. Hulle wag vir hul bederfie. Senuagtige blaffies kom vanuit elke toegespande laehekkie-voortuin. Mens kan am-per nie die klank van die sirenes ’n blok of wat verder hoor nie.
“En dat tannie Mandy vanoggend so vinnig hier verbystap?” vra ek toe ek haar klinkende juweliersware hoor.
“Nee jong, Jy sal nie glo nie! Hierdie land van ons is darem nie meer wat dit was nie!” sy lyk geskok.
“Hoe so?”
“’n Moord!” haar oë is waterig.
“’n Moord?” vra ek.
“Ja jong wraggies in die huis reg oorkant my!”
“Het hulle ingebreek?”
“Nee! Blykbaar sommer by die voorhekkie ingestap. Die groot waghond het nie eers geblaf nie. Sommer by die voordeur in. Hom glo so hard geslaan…”
“Wie?” onderbreek ek die tannie.
“Daai ou afgetrede konstabel, Lodewyk Theron!… Hulle het hom nou net op die vloer ontdek, maar wag ek vertel jou later ek moet glo ’n verklaring of iets gaan aflê.” Tannie Mandy verdwyn om die hoek.
’n Rukkie later hoor ek hoe die hondjies stil word. ’n Tevrede stilte sak op die buurt toe. Ek hoor die geskuifel verby my tuinhekkie. Die twee ooms kom salig verbygestap. Hondjie aan die leiband. Hulle hou hande vas. (Deur Johnny Malgas)
Ooms
Generiese foto