
Saam met Johan Strasheim
Toe ek vanaand sit en skryf aan ’n storietjie, kom ek onwillekeurig af op ’n foto van my oorlede pa – dr Bertie Strasheim – en sit ek toe maar ’n ander interessante stukkie geskiedenis bymekaar.
My pa was ’n merkwaardige man, bekend as rugbyskeidsregter en andersins as ginekoloog. Die mense wat hom nog goed onthou, raak nou maar min en daar is ’n hele aantal feite van hom wat geheel en al onbekend is omdat hy ten spyte van sy sterk karakter, geweldig nederig was.
Dit was ’n ander era met manne van tydlose statuur soos Jan Ellis, Mannetjies Roux, Syd Nomis, Gys Pitzer, Mof Myburgh, Frik du Preez en Dawie de Villiers. Manne wat ons seker nooit sal vergeet nie.
My pa was geweldig regverdig – op en af van die veld af. Dit is ’n edel eienskap en een wat ek nastreef. Die alombekende “geel kaart” wat deesdae so algemeen is in rugby, het sy oorsprong by my pa gehad. Ongeveer 50 jaar gelede het Piet Robbertse – die destydse voorsitter van die SA Skeidsregtersvereniging – ’n wedstryd gekyk waarin my pa as skeidsregter opgetree het. My pa het skynbaar sy hande vol gehad met een van die stutte wie se humeur kort- kort buite beheer geraak het. My pa het maar sy oordeel gebruik en die speler is uiteindelik beveel om die veld te verlaat om af te koel totdat hy na so ’n paar minute teruggeroep is. Die oortredings was nie erg genoeg om hom af te stuur nie, maar wel steurend om ’n behoorlike wedstryd aan die gang te kry. So iets tussenin – en dit het gewerk! Dit was die begin van die sogenaamde “afkoelstoel” en gevolgelike kaartsisteem wat vandag internasionaal in gebruik is.
Robbertse het daarna baie besprekings hieroor in die rugbywêreld aan die gang gesit totdat die konsep uiteindelik deur my pa se ou vriend, dr Danie Craven, op Stellenbosch uitgetoets is. Dit was ’n sukses. Die konsep is aan die IRB voorgelê, maar daar is maar langtand daarna gekyk. Na herhaaldelike voorstelle aan die IRB is dit uiteindelik aanvaar en die res is – soos hulle sê – geskiedenis.
“Dok” was ’n gewilde skeidsregter weens sy regverdigheid en humorsin. Staaltjies oor sy interaksie met spelers van daardie tyd is legio en die moeite werd om ’n ander rubriek oor te skryf.
Wat baie mense seker weet, is dat hy sewe toetswestryde geblaas het tussen 1958 en 1968 asook die taai Curriebekereindstryd tussen Transvaal en Noord-Transvaal in 1968. Wat minder mense weet, is dat sy pa (my oupa en kranige senter van die WP in die 1920’s) ook ’n rugbyskeidsregter was wat in een toets tussen die Springbokke en die Britse Leeus van 1938 die fluitjie hanteer het.
Wat nog minder mense weet, is dat hy vier grade op vier universiteite verwerf het en as geoloog gekwalifiseer het voordat hy gaan medisyne studeer het, én dat hy ook ’n internasionale bofbalskeidsregter was.
My pa het sy laaste toetswedstryd tussen die Springbokke en die Britse Leeus van 1968 onder kapteinskap van Tom Kiernan op Ellispark voor ’n reuse skare hanteer. Die Bokke het die aan-skoulike wedtryd die dag met 19-6 gewen en ek was ’n spikkel daar doer bo in die 62 200 toeskouers. Gerhard Viviers het natuurlik oudergewoonte die wedstryd op die radio uitgesaai.
In dié wedstryd het die Britse haker – John Pullen – skynbaar voor ’n skrum kom kla dat een van die Bokke sy vingers in sy oë druk in die skrum. Daar is toe maar hard met die manne gepraat oor vuilspel en wat die gevolge gaan wees. Die manne is aangesê om te sak in die skrum. Net voor die bal ingegooi is, kom daar toe so ’n anonieme: “Hy lieg ou Dok” onder uit die skrum uit in Afrikaans sodat die spul nie kan verstaan nie. My pa moes hard op sy tande kners om niks weg te gee nie.
My pa was daardie dag by die 52 jaar oud. Ek wonder hoeveel manne van 50 plus kan vandag nog saam met die Sprinbokke vir 80 minute rondhardloop – en byhou!

Kingspark 1967. Die eerste toets teen die Franse Hane.Van links is Benoit Dauga, dr Bertie Strasheim (skeidsregter), twee onbekende Franse spelers, Albie de Waal, Piet Greyling, Jan Ellis, Tiny Naude, Tiny Neethling, Gys Pitzer, en regs Dawie de Villiers.